Profesieë oor Moab
1Oor Moab.
So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel:
“Wee Nebo, want dit word verwoes.
Kirjatajim staan beskaamd,
dit word ingeneem.
Die toevlugsoord staan beskaamd,
is verslae.
2Daar is geen lofprysing meer vir Moab nie;
in Hesbon word onheil teen haar beplan;
‘Kom ons roei haar uit onder die nasies!’
Ook jy, Madmen, sal stilgemaak word;
die swaard is agter jou aan!
3Daar klink 'n noodroep uit Goronajim,
‘Verwoesting en totale ineenstorting!’
4Moab is verpletter;
sy geringes laat 'n noodroep hoor.
5Ja, die opdraande na Lugit –
met 'n gehuil, met 'n gehuil,
gaan hulle daar op.
Ja, teen die afdraande na Goronajim
word angskrete oor die vernietiging gehoor.
6Vlug! Ontkom net met julle lewens!
Word soos 'n jenewerstruik in die woestyn!
7Aangesien jy jou vertroue stel
op jou dade, en op jou voorrade,
sal ook jy ingeneem word.
En Kemos sal in ballingskap uitgaan,
en sy priesters en bevelvoerders
saam met hom.
8Die verwoester kom na elke dorp,
en geen dorp sal vrykom nie.
Die vallei sal ten gronde gaan,
die plato sal verwoes word,”
is wat die Here gesê het.
9Rig 'n gedenkteken op vir Moab,
want hy raak heeltemal vervalle;
sy dorpe word 'n woesteny,
sonder iemand wat daarin woon.
10Vervloek is hy wat die Here
se werk met laksheid doen,
en vervloek is hy wat sy swaard
weerhou van bloed.
11Moab is rustig van sy jeug af;
hy is soos wyn,
ongestoord op sy droesem,
hy is nie oorgeskink
van kruik tot kruik nie –
in ballingskap het hy nie gegaan nie.
Daarom behou hy sy smaak,
en sy geur verander nie.
12Daarom, “kyk, daar kom dae,”
is die uitspraak van die Here,
“dat Ek keldermeesters na hom sal stuur,
en hulle sal hom afgiet.
Sy kruike sal hulle leegmaak,
en sy houers verbrysel.
13Moab sal beskaamd staan oor Kemos,
net soos die huis van Israel
beskaamd gestaan het oor Bet-El,
die bron van hulle vertroue.
14Hoe kan julle sê,
‘Ons is helde, bekwame manne,
as dit kom by oorlogvoering?’
15Moab is verwoes,
die vyand het opgetrek teen sy dorpe,
en die keur van sy jong manne
het afgegaan vir die slagting,”
is die uitspraak van die Koning;
Here, Heerser oor alle magte
is sy Naam.
16Die teenspoed van Moab kom nader;
sy onheil is baie vinnig op pad.
17Betuig meegevoel met hom,
almal in sy omgewing,
almal wat sy naam ken!
Sê, ‘Hoe is die magtige septer
verbreek, die pragtige staf!’
18“Klim af van die eresetel,
en gaan sit op die dor aarde,
inwoner, dogter van Dibon!
Want die verwoester van Moab
trek teen jou op;
hy vernietig jou versterkte stede.
19Gaan staan langs die pad
en kyk uit, inwoners van Aroër!
Vra hom uit wat vlug,
en haar wat vrykom,
en sê, ‘Wat het gebeur?’
20Moab staan beskaamd;
ja, hy is verslae.
Huil en roep om hulp!
Maak dit bekend by die Arnon
dat Moab verwoes is!
21Die oordeel het gekom
oor die land op die plato –
oor Golon, Jahas, en Mefaät;
22oor Dibon, Nebo,
en Bet-Diblatajim;
23oor Kirjatajim, Bet-Gamul,
en Bet-Meon;
24oor Kerijot en Bosra;
oor al die dorpe van die land Moab,
dié wat ver is en dié wat naby is.
25Die horing van Moab is afgekap,
sy voorarm is gebreek,”
is die uitspraak van die Here.
26“Maak hom dronk,
want teenoor die Here
het hy hom groot gehou.
Laat Moab rol in sy braaksel,
sodat ook hy uitgelag word.
27Of is Israel nie deur jou uitgelag nie?
Of is hy tussen diewe betrap,
dat jy, so dikwels as jy oor hom praat,
meewarig die kop skud?
28Verlaat die dorpe,
gaan woon in die rotsklowe,
inwoners van Moab!
Word soos 'n duif wat nesmaak
in die wande van 'n ravyn.
29Ons het gehoor van die trots van Moab,
van die groot vermetelheid,
sy hoogmoed, sy trots,
sy grootdoenerigheid
en sy hooghartigheid.
30Ek self ken sy woedebuie,
maar dit is blote skyn.
Sy grootpratery rig niks uit nie,”
is die uitspraak van die Here.
31Daarom – oor Moab huil ek,
namens die hele Moab roep ek om hulp.
Oor die mense van Kir-Geres kla hulle.
32Meer as oor Jaser, huil ek oor jou,
wingerd van Sibma.
Jou ranke het die see oorgesteek;
tot by Jaser het dit gestrek.
Op jou somervrugte en jou druiweoes
het die verwoester toegesak.
33“Vreugde en gejuig is weggeneem
uit die vrugteboorde
en uit die land van Moab.
Aan wyn uit die parskuipe
het Ek 'n einde gemaak.
Die druiwetrappers trap nie.
Die krete is nie vreugdekrete nie.
34Die hulpgeroep strek
vanaf Gesbon tot by Elale;
tot by Jahas laat hulle
hulle stemme hoor,
van Soar af tot by Goronajim
en Eglat-Selisija.
Ja, ook die waters by Nimrim
word 'n afgryslike plek.
35Ek maak 'n einde aan Moab,”
is die uitspraak van die Here,
“aan hulle wat rook laat opstyg
op die offerhoogtes,
wat offers verbrand vir hulle gode.
36Daarom, oor Moab
kla my hart soos fluite,
soos fluite kla my hart
oor die mense van Kir-Geres.
So is die wins wat hulle gemaak het,
daarmee heen.
37Ja, elke kop is kaalgeskeer,
en elke baard is afgeskeer.
Op alle hande is snymerke,
en om die heupe rouklere.
38Op al die dakke van Moab
en op sy dorpspleine
is daar net roubeklag.
Want Ek het Moab gebreek
soos 'n kruik wat niemand
meer wil hê nie,”
is die uitspraak van die Here.
39Hoe verslae is hy nie!
Hulle huil.
Hoe het Moab nie beskaamd
sy rug gedraai nie!
Moab het lagwekkend geword;
hy is 'n toonbeeld van verskrikking
vir almal rondom hom.
40Want so sê die Here:
“Kyk, soos 'n arend vlieg hy;
hy sprei sy vlerke uit oor Moab.
41Keriot is ingeneem,
die bergvestings is verower;
die helde van Moab se harte is op daardie dag
soos die hart van 'n vrou in barensnood.
42Moab word uitgedelg,
sodat dit geen volk meer is nie;
want teenoor die Here
het hy hom groot gehou.
43Verskrikking, 'n vanggat,
'n vangnet wag op julle,
inwoners van Moab,”
is die uitspraak van die Here.
44“Wie vlug vir die geluid van verskrikking,
val in die vanggat;
wie uitklim uit die vanggat,
word gevang in die vangnet.
Ja, Ek bring hierdie dinge oor Moab –
die jaar waarin daar van hulle
rekenskap geëis word,”
is die uitspraak van die Here.
45“In die skaduwees van Gesbon
staan vlugtelinge kragteloos,
want 'n vuur het uitgegaan uit Gesbon,
'n vlam uit die huis van Sihon.
Dit het die slape van Moab verteer,
die skedel van die rumoermakers.
46Wee jou, Moab!
Die volk van Kemos is tot niet.
Ja, jou seuns is weggeneem
in gevangenskap,
jou dogters in ballingskap.
47Maar Ek sal die lot van Moab
verander aan die einde van die dae,”
is die uitspraak van die Here.
Tot hiertoe die oordeel oor Moab.