Uitstuur van die twaalf
1Jesus het die twaalf bymekaargeroep, en aan hulle mag en gesag oor alle demone gegee en om siektes te genees. 2Toe het Hy hulle uitgestuur om die •koninkryk van God te verkondig en om die siekes gesond te maak, 3en vir hulle gesê: “Moet niks vir die pad saamneem nie, nie 'n wandelstok of 'n reissak of brood of geld of twee kledingstukke nie. 4Watter huis julle ook al binnegaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. 5En as enigiemand julle nie verwelkom nie – wanneer julle daardie dorp verlaat, skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle.” 6Hulle het toe vertrek en die land van een dorpie na die ander deurreis, terwyl hulle die evangelie verkondig en oral siekes gesond maak.
Herodes se twyfel oor Jesus
7Herodes, die tetrarg, het van al hierdie gebeurtenisse gehoor en was verward, omdat sommige mense sê dat Johannes uit die dood opgewek is, 8terwyl ander beweer dat Elia verskyn het, en nog ander dat een van die profete van ouds opgestaan het. 9Herodes het gesê: “Johannes het ek onthoof, maar wie is hierdie persoon van wie ek sulke dinge hoor?” En hy het probeer om Hom te siene te kry.
Vermeerdering van brood
10Die •apostels het teruggekeer en vir Jesus vertel wat hulle alles gedoen het. Toe het Hy, met net hulle by Hom, na 'n dorp gegaan wat Betsaida genoem word. 11Maar die skare het dit agtergekom en Hom daarheen gevolg. Hy het hulle verwelkom, en met hulle gepraat oor die •koninkryk van God, en diegene wat genesing nodig gehad het, het Hy gesond gemaak. 12Dit het al skemer begin raak. Toe het die twaalf nader gekom en vir Hom gesê: “Stuur die skare weg na die dorpies en plase in die omgewing om slaapplek en kos te gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.” 13Hy sê toe vir hulle: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Maar hulle antwoord: “Ons het niks meer nie as net vyf brode en twee visse, tensy ons gaan kos koop vir al hierdie mense.” 14Daar was ongeveer vyfduisend mans. Hy sê toe vir sy dissipels: “Laat hulle gaan sit in groepe van ongeveer vyftig.” 15Hulle het so gemaak en almal laat sit. 16Hy het die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om aan die skare uit te deel. 17Almal het geëet en het versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.
Petrus se belydenis
18Op 'n keer, toe Jesus alleen gebid het, met slegs sy dissipels by Hom, het Hy hulle gevra: “Wie sê die mense is Ek?” 19En hulle het geantwoord: “Johannes die Doper, maar ander sê Elia, en ander weer dat een van die profete van ouds opgestaan het.” 20Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” •Petrus het geantwoord: “Die Christus van God.”
Eerste lydensaankondiging
21Jesus het hulle opdrag gegee om dit aan niemand te vertel nie, 22“want,” het Hy gesê, “die •Seun van die Mens moet baie ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en die skrifkenners verwerp en doodgemaak en op die derde dag opgewek word.”
Navolging van Jesus
23Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; 24want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. 25Want wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins bekom het, maar homself verloor of skade aangedoen het? 26Wie hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die •Seun van die Mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en die heilige engele. 27Ek verseker julle: Sommige van dié wat hier staan, sal beslis nie die dood smaak voordat hulle die koningsheerskappy van God gesien het nie.”
Verheerliking van Jesus
28Ongeveer agt dae nadat Hy dit gesê het, het Hy •Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en teen die berg op gegaan om te gaan bid. 29En terwyl Hy besig was om te bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het helderwit geskitter. 30Skielik was daar twee manne wat met Hom gesprek voer. Dit was Moses en Elia. 31Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring. 32Maar Petrus en die ander twee wat saam met hom was, is deur slaap oorval, en toe hulle wakker word, sien hulle sy glansende heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan. 33Toe die manne van Hom afskeid neem, sê Petrus vir Jesus: “Meester, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U en een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie besef wat hy sê nie. 34Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi 'n skaduwee oor hulle. En terwyl hulle in die wolk verdwyn, het die dissipels bang geword.
35Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my •Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.”
36Nadat die stem gepraat het, het hulle Jesus alleen aangetref. Hulle het stilgebly en vir niemand in daardie tyd vertel wat hulle gesien het nie.
Genesing van 'n seun
37Nadat hulle die volgende dag van die berg afgekom het, het 'n groot skare mense Hom tegemoet gekom. 38En skielik het 'n man uit die skare hard uitgeroep: “Meester, ek smeek U, kom kyk asseblief na my seun, want hy is my enigste kind. 39Kyk, 'n gees pak hom gereeld beet en dan gaan hy skielik aan die skreeu. Hy gee hom stuiptrekkings met skuim om die mond, en verniel hom en wil hom beswaarlik los. 40Ek het u dissipels gesmeek om hom uit te dryf, maar hulle kon nie.” 41Toe antwoord Jesus: “O, ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle bly en julle verdra? Bring jou seun hier.” 42En terwyl die seun nader kom, laat die demoon hom val en stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die •onrein gees bestraf, en die kind gesond gemaak en hom aan sy vader teruggegee. 43Almal was verstom oor die grootheid van God.
Tweede lydensaankondiging
Terwyl almal nog verbaas was oor al die dinge wat Hy gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: 44“Luister goed na hierdie woorde: Die •Seun van die Mens gaan in die hande van mense oorgelewer word.” 45Hulle het hierdie uitspraak egter nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle verborge, sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Hom oor hierdie uitspraak uit te vra.
Belangrikste in die koninkryk
46'n Argument het onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. 47Jesus het geweet wat hulle in hulle harte dink, en trek toe 'n kindjie nader en laat hom langs Hom staan. 48Toe sê Hy vir hulle: “Wie hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My. En wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Die geringste onder julle almal, hý is die belangrikste.”
Teen julle of vir julle
49Hierop het Johannes gesê: “Meester, ons het iemand in u Naam demone sien uitdryf, en ons het hom probeer keer, omdat hy U nie saam met ons volg nie.” 50Maar Jesus het vir hom gesê: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle.”
Jesus verwerp deur die Samaritane
51Toe die tyd vir Jesus se hemelvaart nader kom, was Hy vasberade om die reis na Jerusalem te onderneem. 52Hy het boodskappers voor Hom uitgestuur. En hulle het vertrek en by 'n Samaritaanse dorpie aangekom om daar vir Hom voorbereidings te tref. 53Maar die Samaritane het Hom nie ontvang nie, omdat Hy doelgerig na Jerusalem op pad was. 54Toe die dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel laat neerkom om hulle te vernietig?” 55Maar Hy het omgedraai en hulle tereggewys. 56Hulle het toe na 'n ander dorpie gegaan.
Navolging van Jesus
57Terwyl hulle op pad was, het iemand vir Hom gesê: “Ek sal U volg, waar U ook al gaan.” 58Maar Jesus het hom geantwoord: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die •Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie.”
59Vir 'n ander een het Hy gesê: “Volg My!” Maar hy het geantwoord: “Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.” 60En Jesus het vir hom gesê: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe; maar jy, gaan verkondig jy die •koninkryk van God.”
61Nog 'n ander een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om net eers van my huismense afskeid te neem.” 62En Jesus het vir hom gesê: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en dan omkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”