Offers deur Israeliete en vreemdelinge
1Daarna het die Here met Moses gepraat en gesê: 2“Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land van julle vaste verblyf kom wat Ek vir julle gaan gee, 3en julle bring 'n offergawe vir die Here, 'n •brandoffer of •maaltydoffer uit die beeste of kleinvee om 'n buitengewone gelofte te vervul; of tydens 'n vrywillige offer; of op julle feesdae om 'n aangename geur vir die Here te bring, 4dan moet die persoon wat sy gawe vir die Here aanbied, 'n •graanoffer bring wat bestaan uit 'n tiende van 'n efa gesifte meel, klam gemaak met 'n kwart hin olyfolie. 5En 'n kwart hin wyn moet jy as •drankoffer bring by die brandoffer of die maaltydoffer, vir elke lam. 6Of as dit vir 'n ram is, moet jy 'n graanoffer van twee tiendes van 'n efa meel gesifte meel bring, klam gemaak met 'n derde hin olyfolie; 7en as drankoffer moet jy 'n derde hin wyn aanbied as 'n geurige offer vir die Here. 8En wanneer jy 'n jong bul as brandoffer of maaltydoffer aan die Here bring om 'n buitengewone gelofte te vervul of as gewone maaltydoffer, 9moet daar saam met die jong bul 'n graanoffer gebring word wat bestaan uit drie tiendes van 'n efa gesifte meel, klam gemaak met 'n halwe hin olyfolie. 10Jy moet ook 'n halwe hin wyn as drankoffer bring; dit is 'n offergawe, 'n geurige offer vir die Here. 11So moet dit gedoen word vir elke bul, elke jong ram of stuk kleinvee uit die skape of bokke. 12Hoeveel julle ook al offer, presies so moet julle dit doen by elke offer, afgesien van die getal.
13“ ‘Elke landsburger moet dit so doen om 'n offergawe, 'n geurige offer vir die Here, aan te bied. 14En wanneer 'n •vreemdeling wat tydelik by julle verblyf het, of iemand wat al geslagte lank by julle woon, 'n offergawe, 'n geurige offer vir die Here bring, moet hy dit net soos julle doen. 15Wat die geloofsgemeenskap betref – een vaste voorskrif geld vir julle en vir vreemdelinge wat tydelike verblyf het. Dit is 'n vaste voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld. Voor die Here is vreemdelinge net soos julle. 16Dieselfde wet en dieselfde bepaling geld vir julle en vir vreemdelinge wat tydelik by julle verblyf het.’ ”
17Die Here het met Moses gepraat en gesê: 18“Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land aankom waarheen Ek julle gaan neem, 19en julle van die land se brood eet, moet julle vir die Here 'n •wydingsgeskenk eenkant sit. 20Van julle eerste baksel moet julle 'n ringbrood as wydingsgeskenk eenkant sit. Soos die wydingsgeskenk van die dorsvloer, so moet julle dit eenkant sit. 21Uit julle eerste baksel moet julle en julle nageslagte aan die Here 'n wydingsgeskenk afstaan.’ ”
Onopsetlike en doelbewuste oortredings
22“ ‘Dit kan gebeur dat julle onopsetlik iets verkeerds doen en nie al hierdie gebooie nakom wat die Here aan Moses opgedra het nie, 23ja, alles wat die Here julle by monde van Moses beveel het, van die dag af toe die Here dit beveel het, en daarna, vir julle nageslagte. 24As dit onopsetlik gedoen is, sonder die medewete van die volksvergadering, moet die hele volksvergadering een jong bul as 'n •brandoffer bring saam met die bypassende graan- en drankoffer, soos bepaal word, as 'n geurige offer vir die Here, asook een bokram as 'n •reinigingsoffer. 25Die priester moet vir die hele volksvergadering van die Israeliete versoening doen. Dit sal hulle vergewe word, want dit is 'n onopsetlike sonde. Hulle het dan hulle offer as 'n offergawe aan die Here gebring, asook hulle reinigingsoffer voor die Here vir hulle onopsetlike oortreding. 26Die hele volksvergadering van die Israeliete en die vreemdeling wat tydelik tussen julle verblyf het, sal vergewe word, want die hele volk was betrokke by die onopsetlike oortreding.
27“ ‘As iemand onopsetlik sondig, moet hy 'n jaaroud bokooi as reinigingsoffer aanbied. 28Die priester moet vir die persoon wat onopsetlik 'n oortreding begaan het, voor die Here versoening doen oor sy onopsetlike sonde. Hy moet vir hom versoening doen en dan sal dit hom vergewe word. 29Die gebore Israeliete onder julle en die vreemdelinge wat tussen julle tydelike verblyf het – dieselfde wet geld vir julle almal, vir elkeen wat 'n onopsetlike oortreding begaan. 30Maar die persoon onder die landsburgers en die vreemdelinge wat dit uitdagend doen – dit is met die Here wat hy spot. Hierdie persoon sal uit die midde van sy volk uitgeroei word. 31Omdat hy die woord van die Here verag en sy gebod verbreek het, sal hierdie persoon beslis afgesny word. Sy sondeskuld rus op hom.’ ”
Oortreding van die Sabbatsgebod
32Toe die Israeliete in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die Sabbatdag hout bymekaarmaak. 33Hulle wat op hom afgekom het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses, Aäron en die hele volksvergadering gebring. 34Hulle het hom onder bewaking gehou, omdat dit nie duidelik was wat met hom gedoen moet word nie. 35Toe sê die Here vir Moses: “Die man moet beslis sterf. Die hele volksvergadering moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.” 36Die hele volksvergadering het hom uit die kamp geneem, en hom met klippe doodgegooi. Hy het gesterf, soos wat die Here Moses beveel het.
Tossels aan klere
37Die Here het met Moses gepraat en gesê: 38“Praat met die Israeliete en sê vir hulle dat hulle vir hulle tossels aan die soom van hulle klere moet maak – ook hulle nageslagte. En dat hulle aan die tossels by die soom 'n draad pers wol moet vasmaak. 39Dit sal julle kenmerkende tossels wees en wanneer julle dit sien, sal julle dink aan al die gebooie van die Here en dit uitvoer. Julle sal nie julle harte en oë volg, waardeur julle verlei word nie. 40Dit is sodat julle al my gebooie sal onthou en uitvoer, en sodat julle heilig kan wees vir julle God. 41Ek is die Here, julle God, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het om vir julle 'n God te wees. Ek is die Here, julle God.”