Koor:
1Waarheen het jou liefste gegaan,
mooiste onder die vroue?
Waarheen het jou liefste weggedraai,
dat ons hom saam met jou
kan soek?
Sy:
2My liefste het na sy tuin gegaan,
af na die beddings balsemkruid
om in die tuine te wei
en om narsings te pluk.
3Ek behoort aan my liefste
en my liefste behoort aan my,
hy wat tussen die narsings wei.
Hy:
4Jy is mooi, my liefling, soos Tirsa,
pragtig soos Jerusalem,
indrukwekkend soos
vaandeldraers.
5Wend jou oë af van my,
want hulle ontsenu my.
Jou hare is soos 'n trop bokke
wat teen Gilead afstroom.
6Jou tande is soos 'n kudde ooie
wat van die drinkplek af opkom,
almal tweelinge,
nie een van hulle op sy eie nie.
7Agter jou sluier is jou slape
soos 'n oopgebreekte granaat.
8Al is daar sestig koninginne,
tagtig byvroue,
en ontelbare jong vroue,
9my duif, my volmaakte, is enig.
Enig is sy vir haar ma,
die gunsteling van die een
wat haar in die wêreld gebring het.
Die meisies sien haar raak
en noem haar gelukkig;
die koninginne en byvroue
sien haar raak en prys haar.
Koor:
10Wie is dit wat daar verskyn
soos die dagbreek,
mooi soos die volmaan,
helder soos die son,
indrukwekkend soos
vaandeldraers?
Sy:
11Na die neuteboord het ek afgegaan
om te kyk na die jong plante
by die spruit,
om te kyk of die wingerde rank,
die granaatbome bloei.
12Sonder dat ek dit besef,
het my begeerte my verplaas
na die strydwaens van die
vooraanstaandes van my volk.
Koor:
13Draai om, meisie uit Sulem,
draai om!
Draai om!
Draai om, sodat ons na jou kan kyk!
Waarom staar julle na die meisie
uit Sulem asof na die kringdans
van Mahanaim?