1EN Dawid het daarvandaan weggegaan en ontvlug na die spelonk van Adúllam; en toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom.
2Verder het by hom vergader elkeen wat in benoudheid was, en elkeen wat 'n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was; en hy het owerste oor hulle geword, sodat daar omtrent vierhonderd man met hom saam was.
3Vandaar gaan Dawid toe na Mispe in Moab en sê aan die koning van Moab: Laat my vader en my moeder tog uitkom by julle totdat ek weet wat God met my wil doen.
4En hy het hulle voor die koning van Moab gebring, en hulle het by hom gebly al die dae wat Dawid in die bergvesting was.
5Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: Jy mag nie in die bergvesting bly nie; trek weg en gaan die land Juda in. En Dawid het weggetrek en in die bos Héret gekom.
Saul laat die priesters en die inwoners van Nob vermoor.
6TOE Saul hoor dat Dawid en die manne wat by hom was, opgemerk is — Saul het by Gíbea op die hoogte onder die tamarisk gesit met sy spies in sy hand, en al sy dienaars het by hom gestaan —
7het Saul aan sy dienaars wat by hom staan, gesê: Luister tog, Benjaminiete! Sal die seun van Ísai ook vir julle almal lande en wingerde gee, julle almal aanstel as owerstes oor duisend en owerstes oor honderd,
8dat julle almal teen my saamspan en niemand dit aan my openbaar as my seun met die seun van Ísai 'n verbond sluit nie? en niemand van julle met my medelyde het en dit aan my openbaar dat my seun my onderdaan teen my ophits om my voor te lê, soos vandag die geval is nie?
9Daarop antwoord Doëg, die Edomiet, wat by die dienaars van Saul staan, en sê: Ek het die seun van Ísai sien kom in Nob by Ahiméleg, die seun van Ahítub.
10En dié het vir hom die Here geraadpleeg en hom padkos gegee; hy het ook die swaard van Góliat, die Filistyn, aan hom gegee.
11Toe stuur die koning om Ahiméleg, die seun van Ahítub, die priester, met sy hele familie, die priesters wat in Nob was, te roep, en hulle het almal na die koning gekom.
12En Saul het gesê: Luister tog, seun van Ahítub! Toe antwoord hy: Hier is ek, my heer!
13En Saul sê vir hom: Waarom het julle teen my saamgesweer, jy en die seun van Ísai, deurdat jy vir hom brood en 'n swaard gegee het en God vir hom geraadpleeg het, sodat hy hom as iemand wat my voorlê, teen my sou versit soos vandag die geval is?
14Toe antwoord Ahiméleg die koning en sê: Maar wie is onder al u dienaars so getrou soos Dawid, wat skoonseun van die koning is en aangesluit het by u lyfwag en geëerd is in u huis?
15Het ek vandag vir die eerste keer God vir hom geraadpleeg? Dit is ver van my! Die koning moet nie op sy dienaar, op my hele familie, iets lê nie; want u dienaar het van hierdie hele saak, klein of groot, niks af geweet nie.
16Maar die koning sê: Ahiméleg, jy moet sekerlik sterwe, jy en jou hele familie.
17En die koning sê aan die hardlopers wat by hom staan: Tree nader en maak die priesters van die Here dood, omdat hulle hand ook met Dawid saam is en omdat hulle geweet het dat hy vlug en dit nie aan my geopenbaar het nie. Maar die dienaars van die koning wou hulle hand nie uitsteek om op die priesters van die Here aan te val nie.
18Daarop sê die koning vir Doëg: Tree jy nader en val op die priesters aan. Toe tree Doëg, die Edomiet, nader en hý val op die priesters aan; en hy het op dié dag vyf-en-tagtig man wat die linneskouerkleed dra, gedood.
19Ook die priesterstad Nob het hy met die skerpte van die swaard verslaan, man sowel as vrou, kind sowel as suigling, ook die beeste en esels en skape met die skerpte van die swaard.
20Maar een van die seuns van Ahiméleg, die seun van Ahítub, het vrygeraak, en sy naam was Ábjatar; hy het agter Dawid aan gevlug.
21Toe Ábjatar aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here vermoor het,
22sê Dawid vir Ábjatar: Ek het daardie dag toe Doëg, die Edomiet, daar was, geweet dat hy dit sekerlik aan Saul sou vertel. Ek is die oorsaak van die dood van al die lede van u familie.
23Bly by my, wees nie bevrees nie; want die wat my lewe soek, soek u lewe ook; want u is by my in goeie bewaring.