Kort verhaal van wat met Israel in die woestyn gebeur het.
1DIT is die woorde waarmee Moses die hele Israel toegespreek het oos van die Jordaan in die woestyn, in die Vlakte teenoor Suf, tussen Paran en Tofel en Laban en Háserot en Di-Sahab.
2Elf dae is die pad van Horeb af na die gebergte Seïr tot by Kades-Barnéa.
3En in die veertigste jaar, in die elfde maand, op die eerste van die maand, het Moses met die kinders van Israel gespreek net soos die Here ten opsigte van hulle aan hom bevel gegee het;
4nadat hy Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het, en Og, die koning van Basan, wat in Ástarot gewoon het, in Edréï verslaan het.
5Oos van die Jordaan in die land Moab het Moses onderneem om hierdie wet te verklaar deur te sê:
6Die Here onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly.
7Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus — die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier.
8Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat die Here aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met 'n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle.
9En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie.
10Die Here julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte.
11Mag die Here, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het!
12Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra?
13Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel.
14Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer.
15Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme.
16En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen 'n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is.
17Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.
18So het ek julle dan in dié tyd al die dinge beveel wat julle moet doen.
19Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die Here onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom.
20Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die Here onse God aan ons sal gee.
21Kyk, die Here jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die Here, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie.
22Toe het julle almal na my toe aangekom en gesê: Laat ons manne voor ons uit stuur, dat hulle vir ons die land kan verken en ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek, en die stede waarby ons sal kom.
23En die saak was goed in my oë, sodat ek twaalf man uit julle, uit elke stam een man, geneem het.
24En hulle het weggedraai en na die gebergte opgetrek en tot by die dal Eskol gekom en dit verken.
25Hulle het toe van die vrugte van die land met hulle saamgeneem en dit na ons afgebring en aan ons verslag gegee en gesê: Die land wat die Here onse God aan ons sal gee, is goed.
26Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die Here julle God.
27En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg.
28Waarheen moet ons optrek? Ons broers het ons hart laat versmelt deur te sê: Dit is 'n volk groter en hoër van gestalte as ons; die stede is groot en tot aan die hemel versterk; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.
29Toe het ek aan julle gesê: Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie.
30Die Here julle God wat voor jul uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het
31en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die Here jou God jou gedra het soos 'n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het.
32Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die Here julle God nie,
33wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle 'n plek uit te soek om julle laer op te slaan, snags in die vuur om julle te laat sien op die pad waar julle langs moes trek, en bedags in die wolk.
34En toe die Here die stem van julle woorde hoor, het Hy toornig geword en gesweer en gesê:
35Waarlik, geeneen van hierdie manne, hierdie verkeerde geslag, sal die goeie land sien wat Ek met 'n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie —
36behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne; hy sal dit sien, en aan hom en sy kinders sal Ek die land gee waarop hy geloop het, omdat hy volhard het om die Here te volg.
37Ook was die Here toornig op my om julle ontwil, sodat Hy gesê het: Jy sal daar ook nie inkom nie.
38Josua, die seun van Nun, wat voor jou staan — hý sal daar inkom; versterk hom, want hý sal Israel dit laat beërwe.
39En julle kindertjies van wie julle gesê het: Hulle sal 'n buit word! en julle kinders wat vandag van geen goed of kwaad weet nie — húlle sal daar inkom en aan hulle sal Ek dit gee, en húlle sal dit in besit neem.
40Maar julle, draai om en trek weg na die woestyn op pad na die Skelfsee.
41Toe het julle geantwoord en vir my gesê: Ons het teen die Here gesondig; ons self sal optrek en veg net soos die Here onse God ons beveel het. En toe julle elkeen sy oorlogswapens aangord en daar nog maklik oor dink om in die gebergte op te trek,
42het die Here vir my gesê: Sê vir hulle: Julle mag nie optrek en veg nie — want Ek is nie in julle midde nie — dat julle nie voor julle vyande verslaan word nie.
43Maar toe ek met julle gespreek het, het julle nie geluister nie, maar julle was wederstrewig teen die bevel van die Here en het vermetel in die gebergte opgetrek.
44Toe het die Amoriete wat in dié gebergte gewoon het, uitgetrek julle tegemoet en julle agtervolg soos die bye maak; en hulle het julle verstrooi in Seïr tot by Horma.
45En julle het teruggekom en voor die aangesig van die Here geween, maar die Here het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie.
46So het julle dan baie dae in Kades gebly, solank as julle daar gebly het.