1IN dieselfde nag het die slaap van die koning gewyk, en hy het gesê dat hulle die gedenkskrif, die kronieke, moes bring. En toe dit die koning voorgelees word,
2vind hulle daar beskrywe dat Mórdegai openbaar gemaak het dat Bigtána en Teres, twee hofdienaars van die koning, uit die drumpelwagters, getrag het om die hand aan koning Ahasvéros te slaan.
3Daarop sê die koning: Watter eer en verhoging het Mórdegai daarvoor te beurt geval? En die jongmanne van die koning, sy dienaars, het geantwoord: Met hom het niks gebeur nie.
4Toe sê die koning: Wie is in die voorhof? — juis toe Haman in die buitenste voorhof van die koninklike paleis kom om aan die koning te sê dat hulle Mórdegai moes ophang aan die galg wat hy vir hom laat oprig het.
5En die jongmanne van die koning antwoord hom: Daar staan Haman in die voorhof. Toe sê die koning: Laat hy inkom.
6Nadat Haman ingekom het, vra die koning hom: Wat moet met die man gedoen word aan wie die koning eer wil bewys? Haman dink toe by homself: Aan wie sou die koning eer wil bewys meer as aan my?
7Daarom het Haman vir die koning gesê: Die man aan wie die koning eer wil bewys —
8laat hulle 'n koninklike kleed bring waarmee die koning bekleed was, en 'n perd waar die koning op gery het en op die kop waarvan 'n koninklike kroon gesit is;
9en laat hulle die kleed en die perd afgee aan een van die vorste van die koning, van die vername manne, dat hulle dit die man aantrek aan wie die koning eer wil bewys; en hulle moet hom laat ry op die perd oor die stadsplein en voor hom uitroep: So word gedoen aan die man aan wie die koning eer wil bewys.
10Toe sê die koning vir Haman: Neem gou die kleed en die perd soos jy gespreek het, en doen so aan Mórdegai, die Jood, wat in die poort van die koning sit; jy moet nie een woord onvervuld laat bly van alles wat jy gespreek het nie.
11En Haman het die kleed geneem en die perd, en hy het Mórdegai aangetrek en hom laat ry oor die stadsplein en voor hom uitgeroep: So word gedoen aan die man aan wie die koning eer wil bewys.
12Daarna het Mórdegai teruggegaan na die poort van die koning; maar Haman het hom gehaas na sy huis toe, treurig en met bedekte hoof.
13En Haman het aan sy vrou Seres en al sy vriende vertel alles wat hom oorgekom het. Toe sê sy wyse manne en sy vrou Seres vir hom: As Mórdegai voor wie jy alreeds begin val het, uit die geslag van die Jode is, sal jy niks teen hom kan uitrig nie, maar heeltemal voor hom val.
14Onderwyl hulle nog met hom spreek, kom die hofdienaars van die koning aan, en hulle het Haman gou na die maaltyd gebring wat Ester gereedgemaak het.