Wette oor die vryheid en die lewe van die naaste.
1EN dit is die verordeninge wat jy hulle moet voorhou:
2As jy 'n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy as vryman verniet weggaan.
3As hy alleen kom, moet hy alleen vrygelaat word; as hy getroud is, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word.
4As sy heer aan hom 'n vrou gee en sy vir hom seuns of dogters baar, moet die vrou met haar kinders haar heer se eiendom wees, terwyl hy alleen vrygelaat word.
5Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie —
6dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met 'n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.
7En as iemand sy dogter as slavin verkoop, mag sy nie soos die slawe weggaan nie.
8As sy haar heer nie beval nie wat haar vir homself bestem het, moet hy haar laat loskoop. Hy is nie geregtig om haar aan 'n vreemde volk te verkoop nie, omdat hy troueloos met haar gehandel het.
9Maar as hy haar vir sy seun bestem, moet hy met haar handel volgens die reg van die dogters;
10as hy vir hom 'n ander een neem, mag hy haar voedsel, haar klere en haar huweliksgemeenskap nie verminder nie.
11En as hy hierdie drie dinge nie vir haar doen nie, kan sy verniet weggaan, sonder geld.
12Hy wat 'n mens slaan, dat hy sterwe, moet sekerlik gedood word.
13Maar as hy dit daar nie op toegelê het nie, maar God dit sy hand laat ontmoet het, dan sal Ek jou 'n plek aanwys waarheen hy kan vlug.
14Maar as iemand moedswillig teen sy naaste handel, om hom met lis dood te maak, moet jy hom van my altaar af wegneem, om te sterwe.
15En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word.
16En hy wat 'n mens steel en hom verkoop — of as hy in sy besit gevind word — dié moet sekerlik gedood word.
17En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.
18En as manne twis en die een die ander slaan met 'n klip of met die vuis, sodat hy nie sterwe nie, maar bedlêend word —
19as hy weer opstaan en buite met sy stok rondloop, moet hy wat geslaan het, ongestraf bly; net sy tydverlies moet hy vergoed en sorg dat hy heeltemal gesond word.
20En as iemand sy slaaf of slavin met 'n stok slaan, dat dié onder sy hand sterwe, moet dit sekerlik gewreek word.
21Maar as hy ná een of twee dae nog lewe, moet dit nie gewreek word nie, want hy is sy eiendom.
22En as manne met mekaar veg en 'n swanger vrou so stamp dat haar vrug afgaan, maar daar geen ander letsel is nie, moet hy sekerlik boete betaal soos die man van die vrou hom dit oplê, en hy moet dit deur skeidsregters gee.
23Maar is daar 'n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe,
24oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,
25brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.
26En as iemand sy slaaf of slavin op die oog slaan en hy dit beskadig, moet hy hom vry laat weggaan vir sy oog.
27En as hy die tand van sy slaaf of die tand van sy slavin uitslaan, moet hy hom vry laat weggaan vir sy tand.
28En as 'n bees 'n man of 'n vrou stoot, sodat hy sterwe, moet die bees sekerlik gestenig word; en sy vleis mag nie geëet word nie, maar die baas van die bees sal ongestraf bly.
29Maar as die bees tevore al stoterig gewees het en sy baas gewaarsku was, maar dit nie opgepas het nie, en dit 'n man of 'n vrou doodmaak, moet die bees gestenig word, en sy baas moet ook gedood word.
30As aan hom losgeld opgelê word, moet hy vir die lossing van sy lewe alles gee wat hom opgelê word.
31Of dit 'n seun gestoot het of 'n dogter, volgens hierdie reg moet met hom gehandel word.
32As die bees 'n slaaf of slavin stoot, moet hy aan hulle heer dertig sikkels silwer gee, en die bees moet gestenig word.
33En as iemand 'n put oopmaak, of as iemand 'n put grawe en dit nie toemaak nie, en 'n bees of esel val daarin,
34moet die eienaar van die put vergoeding gee: hy moet aan die eienaar van die dier geld gee, maar die dooie dier moet syne wees.
35En as iemand se bees die bees van 'n ander stoot, sodat dit sterwe, moet hulle die lewendige bees verkoop en die geld daarvan verdeel; en die dooie een moet hulle ook verdeel.
36Of as dit bekend was dat die bees tevore al stoterig gewees het, en sy baas dit nie opgepas het nie, moet hy ten volle bees vir bees vergoed; maar die dooie een moet syne wees.