Die persoonlike verantwoordelikheid.
1VERDER het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
2Wat is dit met julle dat julle hierdie spreekwoord gebruik aangaande die land van Israel, naamlik: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword?
3So waar as Ek leef, spreek die Here Here, dit sal julle nie meer in die gedagte kom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie.
4Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun — hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.
5Maar as iemand regverdig is en reg en geregtigheid doen;
6nie eet op die berge en sy oë nie opslaan na die drekgode van die huis van Israel en die vrou van sy naaste nie verontreinig en nie naby 'n vrou kom as sy onrein is nie,
7en niemand verdruk nie; wat hy vir skuld as pand geneem het, teruggee; geen roof pleeg nie; aan die wat honger het, sy brood gee en die wat naak is, met 'n kleed toedek;
8nie leen op rente en geen woeker neem nie; sy hand terughou van onreg, eerlike regspraak oefen tussen man en man;
9in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou om eerlik te handel — hy is regverdig, hy sal sekerlik lewe, spreek die Here Here.
10En het hy 'n geweldenaar van 'n seun verwek wat bloed vergiet en net maar een van hierdie dinge doen —
11terwyl hy self dit alles nie gedoen het nie — as hy ook eet op die berge en die vrou van sy naaste verontreinig,
12die ellendige en behoeftige verdruk, roof pleeg, die pand nie teruggee nie en sy oë opslaan na die drekgode, gruwelike dinge doen,
13op rente leen en woeker neem — sal hy lewe? Hy sal nie lewe nie; al hierdie gruwels het hy gedoen; hy moet sekerlik gedood word; sy bloedskuld is op hom.
14Maar kyk, as hy 'n seun verwek wat al die sondes van sy vader sien wat hy gedoen het — dit sien en sulke dinge nie doen nie:
15nie eet op die berge en sy oë nie opslaan na die drekgode van die huis van Israel nie, die vrou van sy naaste nie verontreinig
16en niemand verdruk nie, geen pand neem en geen roof pleeg nie, sy brood gee aan die wat honger het, en met 'n kleed toedek die wat naak is,
17sy hand van die ellendige afhou, geen rente of woeker neem nie, my verordeninge volbring en in my insettinge wandel — hy sal nie sterwe weens die ongeregtigheid van sy vader nie, hy sal sekerlik lewe.
18Sy vader sal, omdat hy aan verdrukking skuldig is, sy broer iets deur roof ontneem het en onder sy stamgenote gedoen het wat nie goed is nie — kyk, hy sal deur sy ongeregtigheid sterwe.
19Maar julle sê: Waarom dra die seun nie saam die ongeregtigheid van die vader nie? Maar die seun het reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou en dit volbring — hy sal sekerlik lewe!
20Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.
21Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.
22Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe.
23Het Ek dan miskien 'n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here Here. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?
24Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen — sal hy lewe? Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe.
25Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie. Hoor tog, o huis van Israel! Is mý weg nie reg nie? Is júlle weë nie onreg nie?
26As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sterf hy ten gevolge daarvan; deur sy onreg wat hy gedoen het, sterf hy.
27En as die goddelose hom bekeer van sy goddeloosheid wat hy gedoen het, en reg en geregtigheid doen — hý sal sy siel in die lewe behou;
28hy het dit ingesien en hom bekeer van al sy oortredinge wat hy begaan het; hy sal sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.
29Tog sê die huis van Israel: Die weg van die Here is nie reg nie. Is mý weë nie reg nie, o huis van Israel? Is júlle weë nie onreg nie?
30Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here Here. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie 'n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie.
31Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel?
32Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here Here. Bekeer julle dan en lewe.