Die brandwag.
1EN die woord van die Here het tot my gekom en gesê:
2Mensekind, spreek met die kinders van jou volk en sê vir hulle: As Ek die swaard oor 'n land bring, en die mense van die land neem 'n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan,
3en hy sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense —
4as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof.
5Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie: sy bloed is op hom. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel.
6As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem 'n siel uit hulle weg — dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis.
7En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy 'n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku.
8As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
9Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.
10En jy, mensekind, sê aan die huis van Israel: So het julle gesê: Gewis, ons oortredinge en ons sondes is op ons, en daardeur teer ons weg — hoe kan ons dan lewe?
11Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?
12En jy, mensekind, sê aan die kinders van jou volk: Die geregtigheid van die regverdige sal hom nie red op die dag van sy oortreding nie; en aangaande die goddeloosheid van die goddelose, hy sal daardeur nie struikel op die dag as hy hom van sy goddeloosheid bekeer nie; en die regverdige sal deur sy geregtigheid nie kan lewe op die dag as hy sondig nie.
13As Ek aan die regverdige sê dat hy sekerlik sal lewe, en hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg, dan sal aan al sy geregtighede nie gedink word nie, maar deur sy onreg wat hy doen, daardeur sal hy sterwe.
14En as Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe — en hy hom van sy sonde bekeer, en reg en geregtigheid doen —
15gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie — dan sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.
16Al sy sondes wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy het reg en geregtigheid gedoen, hy sal sekerlik lewe.
17Maar die kinders van jou volk sê: Die weg van die Here is nie reg nie, terwyl tog hulle eie weg nie reg is nie.
18As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sal hy ten gevolge daarvan sterwe.
19En as die goddelose hom bekeer van sy goddeloosheid en reg en geregtigheid doen, dan sal hy ten gevolge daarvan lewe.
20Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie. Ek sal julle oordeel, elkeen volgens sy weë, o huis van Israel!
Die stad is ingeneem!
21EN in die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand op die vyfde van die maand, het 'n vlugteling uit Jerusalem na my gekom met die woorde: Die stad is ingeneem!
22En die hand van die Here was op my in die aand, voordat die vlugteling gekom het; en Hy het my mond geopen teen die tyd dat hy in die môre na my gekom het. So is dan my mond geopen, en ek was nie meer stom nie.
23Toe het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
24Mensekind, die bewoners van daardie puinhope in die land van Israel spreek en sê: Abraham was 'n eenling, en tog het hy die land as besitting ontvang; maar ons is baie; aan ons is die land as besitting gegee!
25Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here Here: Julle eet vleis saam met die bloed en slaan julle oë op na jul drekgode en vergiet bloed — en sal julle die land as besitting ontvang?
26Julle steun op jul swaard, julle doen gruwels en verontreinig elkeen die vrou van sy naaste — en sal julle die land as besitting ontvang?
27So moet jy vir hulle sê: So spreek die Here Here: So waar as Ek leef, die wat in die puinhope is, sal gewis deur die swaard val; en hom wat op die oop veld is, gee Ek aan die wilde diere oor om opgeëet te word; en die wat in die vestings en in die spelonke is, sal deur die pes sterwe.
28En Ek sal die land 'n wildernis en 'n woesteny maak, en aan sy trotse mag sal 'n einde kom; en die berge van Israel sal woes wees sonder dat iemand daar oorgaan.
29Dan sal hulle weet dat Ek die Here is, as Ek die land 'n wildernis en 'n woesteny maak oor al hul gruwels wat hulle bedryf het.
30En jy, mensekind, die kinders van jou volk wat oor jou gesels langs die mure en in die deure van die huise — hulle spreek die een met die ander, elkeen met sy broer, en sê: Kom tog en hoor wat die woord is wat van die Here uitgaan.
31En hulle kom na jou toe soos 'n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan.
32En kyk, jy is vir hulle soos 'n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie.
33Maar as dit kom — kyk, dit kom! — dan sal hulle weet dat daar 'n profeet onder hulle gewees het.