Jerusalem word opgeëis deur Sánherib.
1EN in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sánherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower.
2Toe stuur die koning van Assirië die rábsake uit Lagis na Jerusalem, na koning Hiskía met 'n swaar leër; en hy het gaan staan by die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld.
3Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, na hom toe uit.
4En die rábsake sê vir hulle: Sê tog aan Hiskía: So spreek die groot koning, die koning van Assirië: Wat is dit vir 'n vertroue wat jy koester?
5Jy dink: Net 'n woord van die lippe is raad en dapperheid vir die oorlog. Op wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom?
6Kyk, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou.
7Maar as jy vir my sê: Ons vertrou op die Here onse God — is dit nie Hy wie se hoogtes en wie se altare Hiskía verwyder het nie deur aan Juda en Jerusalem te sê: Voor hierdie altaar moet julle buig?
8Nou dan, wed tog met my heer, die koning van Assirië, en ek sal jou tweeduisend perde gee as jy vir jou ruiters daarop kan lewer.
9Hoe sal jy dan die aanval van 'n enkele goewerneur van my heer se geringste dienaars kan afslaan? Maar jy vertrou op Egipte vir strydwaens en perderuiters!
10Het ek dan nou sonder die Here teen hierdie land opgetrek om dit te verwoes? Die Here het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en verwoes dit.
11Toe sê Éljakim en Sebna en Joa vir die rábsake: Praat tog met u dienaars Aramees, want ons verstaan dit; en moenie met ons Joods praat voor die ore van die manskappe wat op die muur is nie.
12Maar die rábsake het gesê: Het my heer my na jou heer en na jou gestuur om hierdie woorde te spreek? Is dit nie na die manne wat op die muur sit, dat hulle hul eie drek kan eet en hul eie water kan drink saam met julle nie?
13Toe gaan die rábsake staan en roep hardop in die Joodse taal en sê: Hoor die woorde van die groot koning, die koning van Assirië!
14So sê die koning: Laat Hiskía julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie kan red nie.
15En Hiskía moet julle nie op die Here laat vertrou nie deur te sê: Die Here sal ons sekerlik red; hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.
16Luister nie na Hiskía nie; want so sê die koning van Assirië: Sluit met my vriendskap en trek uit na my toe en eet elkeen van sy wingerdstok en elkeen van sy vyeboom en drink elkeen die water van sy put,
17totdat ek kom en julle meeneem na 'n land soos julle land, 'n land van koring en mos, 'n land van brood en wingerde.
18Laat Hiskía julle nie verlei nie deur te sê: Die Here sal ons red! Het die gode van die nasies elkeen sy land gered uit die hand van die koning van Assirië?
19Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar die gode van Sefarváim? En het hulle miskien Samaría gered uit my hand?
20Wie is daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land gered het uit my hand, dat die Here Jerusalem uit my hand sou red?
21Maar hulle het stilgebly en hom niks geantwoord nie; want dit was die bevel van die koning: Julle moet hom nie antwoord nie.
22Toe het Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, met geskeurde klere by Hiskía gekom en hom die woorde van die rábsake te kenne gegee.