Die stam van Benjamin word byna uitgeroei.
1TOE het al die kinders van Israel uitgetrek, en die vergadering het soos een man, van Dan tot Berséba, saam met die land Gílead, byeengekom by die Here in Mispa;
2en die hoofde van die hele volk, van al die stamme van Israel, het in die vergadering van die volk van God gaan staan — vierhonderdduisend man te voet wat die swaard uittrek.
3En die kinders van Benjamin het gehoor dat die kinders van Israel opgetrek het na Mispa. Toe sê die kinders van Israel: Vertel julle hoe hierdie misdaad gepleeg is.
4Daarop antwoord die Levitiese man, die man van die vermoorde vrou, en sê: Ek het in Gíbea wat aan Benjamin behoort, gekom, ek en my byvrou, om te vernag.
5En die burgers van Gíbea het teen my opgestaan en in vyandskap teen my die huis omsingel in die nag; hulle het gemeen om my dood te maak, en my byvrou het hulle onteer, sodat sy gesterf het.
6Toe het ek my byvrou gegryp en haar in stukke verdeel en haar rondgestuur in die hele gebied van die erfdeel van Israel, omdat hulle 'n gruwel en 'n skanddaad in Israel begaan het.
7Hier is julle, kinders van Israel, nou almal: gee julle hier woord en raad!
8Toe staan die hele volk op soos een man en sê: Geeneen van ons sal na sy tent toe gaan en geeneen van ons wegdraai na sy huis toe nie;
9maar dit is nou die ding wat ons Gíbea sal aandoen: Op teen hom volgens die lot!
10Ons sal naamlik tien man neem uit elke honderd van al die stamme van Israel, en honderd uit duisend, en duisend uit tienduisend, om padkos vir die manskappe te gaan haal, om as hulle gekom het, met Gíbea-Benjamin te handel volgens die skanddaad wat hy in Israel begaan het.
11Toe versamel al die manne van Israel by die stad, soos een man saamverbonde.
12En die stamme van Israel stuur manne deur die hele stam van Benjamin om te sê: Wat vir 'n misdaad is dit wat onder julle gepleeg is?
13Lewer dan nou die slegte manne uit wat in Gíbea is, dat ons hulle om die lewe kan bring en die kwaad uit Israel kan uitroei. Die Benjaminiete wou egter nie na hulle broers, die kinders van Israel, luister nie;
14maar die kinders van Benjamin het bymekaargekom uit die stede na Gíbea toe, om na die oorlog uit te trek teen die kinders van Israel.
15En die kinders van Benjamin uit die stede is op dié dag getel ses-en-twintigduisend man wat die swaard uittrek, behalwe die inwoners van Gíbea wat getel is: sewehonderd uitgesoekte manne.
16Uit al hierdie manskappe was daar sewehonderd uitgesoekte manne wat links was; hulle almal het met 'n klip op 'n haar geslinger sonder om te mis.
17En die manne van Israel, behalwe Benjamin, is getel: vierhonderdduisend man wat die swaard uittrek, hulle almal was krygsmanne.
18En hulle het klaargemaak en opgetrek na Bet-el en God geraadpleeg; en die kinders van Israel het gesê: Wie van ons moet eerste optrek om te veg teen die kinders van Benjamin? Toe sê die Here: Juda eerste.
19Daarop het die kinders van Israel die môre klaargemaak en laer opgeslaan teen Gíbea.
20En die manne van Israel het uitgetrek om te veg teen Benjamin, en die manne van Israel het hulleself in slagorde teen hulle opgestel, na Gíbea toe.
21Toe trek die kinders van Benjamin uit Gíbea uit, en hulle het op dié dag in Israel twee-en-twintigduisend man teen die grond vernietig.
22Maar die manskappe, die manne van Israel, het hulle sterk gehou en hulle weer in slagorde opgestel op die plek waar hulle hul die vorige dag opgestel het.
23En die kinders van Israel het opgetrek en geween voor die aangesig van die Here tot die aand toe en die Here geraadpleeg en gesê: Moet ek weer nader trek om te veg teen die kinders van Benjamin, my broer? En die Here sê: Trek teen hom op!
24En toe die kinders van Israel die tweede dag nader kom na die kinders van Benjamin,
25het Benjamin uit Gíbea op die tweede dag uitgetrek om hulle te ontmoet en van die kinders van Israel nog agttienduisend man wat almal die swaard uittrek, teen die grond vernietig.
26Daarop trek al die kinders van Israel, ja, die hele volk weg, en hulle het na Bet-el gekom; en hulle het geween en daar gebly voor die aangesig van die Here en dié dag gevas tot die aand toe en brandoffers en dankoffers voor die aangesig van die Here gebring.
27En die kinders van Israel het die Here geraadpleeg — want die verbondsark van God was in dié dae daar,
28en Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van Aäron, het in dié dae voor Hom gedien — en gesê: Moet ek nog weer uittrek om teen die kinders van Benjamin, my broer, te veg, of moet ek ophou? Toe sê die Here: Trek op, want môre sal Ek hom in jou hand gee.
29En Israel het rondom teen Gíbea hinderlae opgestel.
30En die kinders van Israel het op die derde dag teen die kinders van Benjamin opgetrek en hulle teen Gíbea opgestel soos die vorige kere.
31En die kinders van Benjamin het uitgetrek, die manskappe tegemoet — hulle is van die stad afgesny — en, soos die vorige kere, het hulle begin om sommige van die manskappe op die grootpaaie te verslaan, waarvan die een opgaan na Bet-el, en die ander deur die veld na Gíbea — omtrent dertig man in Israel.
32Toe dink die kinders van Benjamin: Hulle is voor ons verslaan soos die eerste keer! Maar die kinders van Israel het gesê: Laat ons vlug en hom van die stad afsny na die grootpaaie toe.
33En al die manne van Israel het hulle stelling verlaat en hulle by Baäl-Tamar opgestel, terwyl die hinderlaag van Israel aanruk uit sy stelling, uit die oop plek by Geba.
34En tienduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel het teenoor Gíbea vandaan gekom, en die geveg was hewig; maar Benjamin het nie gemerk dat die onheil hulle sou tref nie.
35Toe het die Here Benjamin voor Israel verslaan, en die kinders van Israel het op dié dag in Benjamin vyf-en-twintigduisend-eenhonderd man wat almal die swaard uittrek, vernietig.
36So het dan die kinders van Benjamin gesien dat hulle verslaan is. En die manne van Israel het aan Benjamin terrein gegee, omdat hulle vertrou het op die hinderlaag wat hulle teen Gíbea opgestel het.
37Toe het die hinderlaag vinnig na Gíbea gestorm — en die hinderlaag het getrek en die hele stad met die skerpte van die swaard verslaan.
38En die manne van Israel het 'n afspraak met die hinderlaag gehad dat hulle 'n groot rookwolk uit die stad moet laat optrek.
39Daarom het die manne van Israel omgedraai in die geveg; en die Benjaminiete het begin om onder die manne van Israel sommige neer te slaan, omtrent dertig man, want hulle het gedink: Hy is regtig heeltemal voor ons verslaan soos in die vorige geveg.
40Intussen het die wolk begin optrek uit die stad, 'n rookpilaar; en toe Benjamin agter hom omkyk, trek die hele stad al in rook na die hemel op!
41Toe die manne van Israel dan nou omdraai, het die manne van Benjamin geskrik, want hulle het gesien dat die onheil hulle gaan tref;
42en hulle het voor die manne van Israel omgedraai op pad na die woestyn; maar die geveg het hulle ingehaal, terwyl die wat uit die stede kom, hulle daar tussenin vernietig:
43hulle het Benjamin omsingel, hom agtervolg, hom op die rusplek vertrap tot teenoor Gíbea, aan die oostekant.
44En daar het van Benjamin agttienduisend man geval, en dit almal dapper manne.
45Toe spring hulle om en vlug na die woestyn, na die rots Rimmon; maar hulle het in die nageveg op die grootpaaie vyfduisend man van hulle gedood en hulle agternagesit tot by Gídeom en tweeduisend man van hulle verslaan.
46En al die gesneuweldes van Benjamin op dié dag was vyf-en-twintigduisend man wat die swaard uittrek, en dit almal dapper manne.
47Maar seshonderd man het omgedraai en gevlug na die woestyn, na die rots Rimmon en vier maande by die rots Rimmon gebly.
48Toe gaan die manne van Israel terug na die kinders van Benjamin en verslaan hulle met die skerpte van die swaard, sowel mense as diere en alles wat voorgekom het; ook al die stede wat hulle aangetref het, het hulle aan die brand gesteek.