1DIE sonde van Juda is geskrywe met 'n ystergriffel, met 'n diamantpunt; dit is gegrif op die tafel van hulle hart en op die horings van julle altare —
2telkens as hulle kinders aan hulle altare dink en aan hulle heilige boomstamme by die groen bome, op die hoë heuwels.
3My berg in die veld, jou rykdom, al jou skatte sal Ek as buit gee saam met jou hoogtes, weens die sonde in jou hele grondgebied.
4En jy sal uitval — en dit deur jouself — uit jou erfenis wat Ek jou gegee het, en Ek sal jou jou vyande laat dien in 'n land wat jy nie ken nie; want julle het 'n vuur aangesteek in my toorn, tot in ewigheid sal dit brand.
5So sê die Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk.
6En hy sal wees soos 'n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, 'n brakkerige en onbewoonde land.
7Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is.
8Want hy sal wees soos 'n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in 'n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.
9Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
10Ek, die Here, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.
11'n Voël wat eiers uitbroei sonder dat hy dit gelê het, is hy wat rykdom verwerf maar nie eerlik nie; in die helfte van sy dae moet hy dit laat agterbly, en in sy einde sal hy 'n dwaas wees.
12'n Troon van heerlikheid, verhewe van die begin af, is die plek van ons heiligdom.
13o Here, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die Here, die fontein van lewende water, verlaat.
14Maak my gesond, Here, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof.
15Daar sê hulle vir my: Waar is die woord van die Here? Laat dit tog kom!
16Wat my aangaan, ek het my nie onttrek om U as herder te volg nie, en die ongelukkige dag het ek nie begeer nie. Ú weet dit. Wat uit my lippe uitgegaan het, was voor u aangesig.
17Wees my nie tot 'n verskrikking nie; U is my toevlug in die dag van onheil.
18Laat my vervolgers beskaamd staan, maar laat mý nie beskaamd staan nie; laat hulle verskrik wees, maar laat mý nie verskrik wees nie. Bring oor hulle die dag van onheil, en verbreek hulle met 'n dubbele verbreking.
Heiliging van die sabbat.
19SO het die Here vir my gesê: Gaan staan in die poort van die kinders van die volk, waardeur die konings van Juda ingaan en waardeur hulle uitgaan, ja, al die poorte van Jerusalem;
20en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, konings van Juda en die hele Juda en al die inwoners van Jerusalem wat deur hierdie poorte ingaan:
21So spreek die Here: Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die sabbatdag en dit inbring deur die poorte van Jerusalem nie.
22Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het.
23Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard om nie te luister nie en geen tugtiging aan te neem nie.
24As julle dan aandagtig na My luister, spreek die Here, om geen las deur die poorte van hierdie stad op die sabbatdag in te bring nie en om die sabbatdag te heilig deur daarop géén werk te doen nie,
25dan sal deur die poorte van hierdie stad konings en vorste ingaan wat op die troon van Dawid sit, wat op strydwaens en op perde ry, hulle en hulle vorste, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem; en hierdie stad sal vir ewig bewoon word.
26En hulle sal kom uit die stede van Juda en uit die omstreke van Jerusalem en uit die land Benjamin en uit die Laeveld en uit die Gebergte en uit die Suidland, hulle wat brandoffer en slagoffer en spysoffer en wierook aanbring, en lofoffer aanbring in die huis van die Here.
27Maar as julle na My nie luister om die sabbatdag te heilig nie en om geen las te dra of deur die poorte van Jerusalem op die sabbatdag in te gaan nie, sal Ek 'n vuur in sy poorte aansteek, wat die paleise van Jerusalem sal verteer en nie uitgeblus sal word nie.