1IN dié tyd, spreek die Here, sal Ek vir al die geslagte van Israel 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.
2So sê die Here: Die volk van diegene wat van die swaard vrygeraak het, het genade gevind in die woestyn, op weg om sy rus te geniet, naamlik Israel.
3Die Here het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met 'n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.
4Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers.
5Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaría; die planters sal plant en die vrugte geniet.
6Want die dag is daar dat die oppassers op die berge van Efraim roep: Maak julle klaar en laat ons optrek na Sion, na die Here onse God.
7Want so sê die Here: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: o Here, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel!
8Kyk, Ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agterhoeke van die aarde; blindes en lammes, swangeres en barendes onder hulle, almal saam; in 'n groot vergadering sal hulle terugkom hiernatoe.
9Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei; Ek sal hulle bring by waterstrome, op 'n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie; want Ek is vir Israel 'n Vader, en Efraim is my eersgeborene.
10Hoor die woord van die Here, o nasies, en verkondig in die kuslande wat ver is, en sê: Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos 'n herder sy kudde.
11Want die Here het Jakob losgekoop en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy.
12En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die Here, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos 'n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie.
13Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer.
14En Ek sal die siel van die priesters verkwik met vettigheid, en my volk sal versadig word met my seëninge, spreek die Here.
15So sê die Here: 'n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.
16So sê die Here: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom.
17Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die Here; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied.
18Sekerlik het Ek Efraim hoor weeklaag: U het my getugtig en ek het my laat tugtig soos 'n ongeleerde kalf. Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God.
19Want nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad; en nadat ek tot insig gekom het, het ek op die heup geslaan; ek het beskaamd gestaan, ja, ook in die skande gekom, omdat ek die smaad van my jeug dra.
20Is Efraim vir My 'n dierbare seun of 'n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here.
21Rig vir jou mylpale op, maak vir jou padwysers, let op die grootpad, die pad wat jy geloop het. Kom terug, o jonkvrou van Israel, kom terug na hierdie stede van jou!
22Hoe lank sal jy bly aarsel, o afkerige dogter? Want die Here het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm.
23So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Weer sal hulle hierdie woord sê in die land Juda en in die stede daarvan, as Ek hulle lot verander: Mag die Here jou seën, o woning van geregtigheid, heilige berg!
24En Juda en al sy stede sal daarin woon, almal saam; die landbouers en die wat met troppe vee rondtrek.
25Want Ek verkwik die vermoeide siel en elke kwynende siel versadig Ek.
26(Hierop het ek wakker geword en opgekyk, en my slaap was vir my soet.)
27Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek die huis van Israel en die huis van Juda sal besaai met saad van mense en van diere.
28En soos Ek oor hulle wakker was om uit te ruk en om te gooi en te verwoes en te vernietig en skade aan te doen, so sal Ek oor hulle wakker wees om te bou en te plant, spreek die Here.
29In dié dae sal hulle nie meer sê nie: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword.
30Maar elkeen sal weens sy eie ongeregtigheid sterwe; elke mens wat die groen druiwe eet, sy tande sal stomp word.
31Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit;
32nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here.
33Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.
34En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.
35So sê die Here wat die son gee tot 'n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot 'n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, Here van die leërskare is sy Naam:
36As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die Here, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om 'n volk te wees voor my aangesig vir altyd.
37So sê die Here: As die hemele daarbo gemeet en die fondamente van die aarde daaronder nagespeur kan word, dan sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp weens alles wat hulle gedoen het, spreek die Here.
38Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat die stad vir die Here herbou sal word, van die toring Hanáneël af tot by die Hoekpoort.
39En die meetsnoer sal verder reguit aanloop tot by die heuwel Gareb en swaai na Goa toe.
40En die hele dal van die lyke en van die as, en al die velde tot by die spruit Kidron, tot by die hoek van die Perdepoort teen die ooste, sal aan die Here heilig wees; dit sal nie weer uitgeruk of verwoes word in ewigheid nie.