Israel word deur die Gibeoniete bedrieg en sluit 'n verdrag met hulle.
1EN toe al die konings wat wes van die Jordaan woon op die Gebergte en in die Laeveld en aan die hele kus van die Groot See na die kant van die Líbanon toe: die Hetiete en Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, dit hoor,
2het hulle bymekaargekom om soos een man teen Josua en Israel te veg.
3Maar toe die inwoners van Gíbeon hoor wat Josua met Jérigo en met Ai gedoen het,
4het hulle ook met lis gehandel: hulle het gegaan en hulle as boodskappers aangestel en verslyte sakke op hulle esels geneem en verslyte wynsakke wat geskeur en weer toegebind was;
5ook verslyte en gelapte skoene aan hulle voete en verslyte klere aan hulle lyf; en al die brood van hulle padkos was droog en verkrummeld.
6So het hulle dan na Josua gegaan in die laer van Gilgal en aan hom en die manne van Israel gesê: Ons kom van 'n ver land af; sluit dan nou 'n verbond met ons.
7Maar die manne van Israel het aan die Hewiete gesê: Miskien woon julle onder ons; hoe kan ons dan 'n verbond met julle sluit?
8Toe sê hulle vir Josua: Ons is u dienaars! Daarop het Josua hulle gevra: Wie is julle, en waar kom julle vandaan?
9En hulle sê vir hom: U dienaars kom van 'n baie ver land af, vanweë die Naam van die Here u God; want ons het die gerug van Hom gehoor, en alles wat Hy in Egipte gedoen het;
10en alles wat Hy aan die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan gedoen het, aan Sihon, die koning van Hesbon, en Og, die koning van Basan, wat in Ástarot was.
11Daarom het ons oudstes en al die inwoners van ons land met ons gespreek en gesê: Neem padkos met julle saam vir die reis en trek hulle tegemoet en sê aan hulle: Ons is julle dienaars, sluit dan nou 'n verbond met ons.
12Ons brood hier — warm het ons dit as padkos uit ons huise geneem, die dag toe ons uitgetrek het om na julle te gaan — kyk maar, nou het dit droog en verkrummeld geword.
13En die wynsakke hier wat ons as nuwes volgemaak het — kyk maar, hulle is geskeur; en ons klere hier en ons skoene — hulle is verslyt deur die baie lang reis.
14Toe neem die manne van hulle padkos; maar die mond van die Here het hulle nie geraadpleeg nie.
15En Josua het met hulle vrede gemaak en met hulle 'n verbond gesluit, dat hy hulle sou laat lewe; en die owerstes van die vergadering het hulle dit met 'n eed beloof.
16Maar aan die einde van drie dae, nadat die verbond met hulle gesluit was, hoor die volk dat hulle in hul nabyheid en tussen hulle in woon.
17Die kinders van Israel het naamlik weggetrek en op die derde dag by hulle stede gekom; en hulle stede was: Gíbeon en Kefíra en Béërot en Kirjat-Jeárim.
18Maar die kinders van Israel het hulle nie verslaan nie, omdat die owerstes van die vergadering vir hulle gesweer het by die Here, die God van Israel; die hele vergadering het toe teen die owerstes gemurmureer.
19Daarop sê al die owerstes aan die hele vergadering: Ons het self vir hulle gesweer by die Here, die God van Israel; en nou mag ons hulle nie aanraak nie.
20Dit sal ons aan hulle doen en hulle laat lewe, sodat daar nie toorn oor ons kom ter wille van die eed wat ons vir hulle gesweer het nie.
21Verder sê die owerstes vir hulle: Laat hulle lewe! En hulle het houtkappers en waterputters geword van die hele vergadering, soos die owerstes aan hulle gesê het.
22Toe laat Josua hulle roep en spreek met hulle en sê: Waarom het julle ons bedrieg deur te sê: Ons woon baie ver van julle af — terwyl julle tussen ons in woon?
23Nou dan, vervloek is julle! En nooit sal julle ophou om knegte, houtkappers sowel as waterputters, vir die huis van my God te wees nie.
24Toe het hulle Josua geantwoord en gesê: Omdat aan u dienaars verseker meegedeel was dat die Here u God aan Moses, sy kneg, bevel gegee het om die hele land aan julle te gee en al die inwoners van die land voor julle uit te verdelg, daarom was ons vir julle baie bevrees ter wille van ons lewe en het ons hierdie ding gedoen.
25Maar hier is ons nou in u hand: doen soos dit goed en reg is in u oë om met ons te handel.
26Hy het toe so met hulle gedoen en hulle gered uit die hand van die kinders van Israel, dat dié hulle nie gedood het nie.
27So het Josua dan op dié dag houtkappers en waterputters van hulle gemaak vir die vergadering en vir die altaar van die Here, tot vandag toe, op die plek wat Hy sou uitkies.