Jesus is Here van die sabbat.
1EN op die tweede eerste sabbat het Hy deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het die are gepluk en met hulle hande uitgevrywe en geëet.
2Toe sê sommige van die Fariseërs vir hulle: Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie?
3En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was —
4hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het, en ook aan die wat by hom was, gegee het, wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen?
5Toe sê Hy vir hulle: Die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.
Genesing van die man met die verdorde hand.
6EN op 'n ander sabbat het Hy in die sinagoge gegaan en geleer. En daar was 'n man, en sy regterhand was uitgedor.
7En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Hom in die oog gehou, of Hy op die sabbat gesond maak, sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon vind.
8Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die verdorde hand gesê: Staan op hier in hul midde. En hy het opgestaan.
9Toe sê Jesus vir hulle: Ek sal aan julle 'n vraag stel: wat is geoorloof op die sabbat — om goed te doen of kwaad te doen; om 'n lewe te red of óm te bring?
10En nadat Hy almal rondom aangekyk het, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit gedoen; en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.
11En hulle is met uitsinnigheid vervul en het met mekaar gepraat wat hulle aan Jesus sou doen.
Kiesing van die twaalf.
12EN Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring.
13En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy apostels genoem het:
14Simon wat Hy Petrus genoem het, en Andréas, sy broer; Jakobus en Johannes; Filippus en Bartholoméüs;
15Matthéüs en Thomas; Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon wat Yweraar genoem word;
16Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskáriot, wat die verraaier geword het.
Die bergrede.
(Mt. 5 – 7 en ooreenk. pl.)
17EN Hy het met hulle afgeklim en op 'n gelyk plek gaan staan, en daar was 'n skare van sy dissipels en 'n groot menigte van die volk van die hele Judéa en Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af,
18wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees.
19En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak.
20Toe slaan Hy sy oë op oor sy dissipels en sê: Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God.
21Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag.
22Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens.
23Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.
24Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.
25Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween.
26Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.
27Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.
28Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.
29Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.
30Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.
31En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.
32En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet.
33En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde.
34En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.
35Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.
36Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.
37En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.
38Gee, en aan julle sal gegee word. 'n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.
39En Hy het vir hulle 'n gelykenis uitgespreek: 'n Blinde kan tog nie 'n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie?
40'n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees.
41En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie?
42Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.
43Want dit is nie 'n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie 'n slegte boom wat goeie vrugte dra nie.
44Want elke boom word geken aan sy eie vrugte. Van dorings pluk 'n mens tog nie vye nie, en 'n mens sny ook nie druiwe van 'n doringbos nie.
45Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.
46En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?
47Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen — Ek sal julle wys soos wie hy is.
48Hy is soos 'n man wat 'n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was.
49Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos 'n man wat 'n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot.