Johannes die Doper stuur twee dissipels na Jesus.
1EN toe Jesus klaar was met bevele aan sy twaalf dissipels te gee, het Hy daarvandaan weggegaan om te leer en te preek in hulle stede.
2En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur
3en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?
4En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien:
5blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig.
6En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.
7En toe hulle vertrek, begin Jesus vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan om in die woestyn te aanskou? 'n Riet wat deur die wind beweeg word?
8Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat sagte klere dra, is in die huise van konings.
9Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, ook baie meer as 'n profeet!
10Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak.
11Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.
12Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld.
13Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer.
14En as julle dit wil aanneem: hy is Elía wat sou kom.
15Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
16Maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk? Dit is net soos kindertjies wat op die markte sit en na hulle maats roep
17en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie getreur nie.
18Want Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: Hy het 'n duiwel.
19Die Seun van die mens het gekom — Hy eet en drink, en hulle sê: Dáár is 'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars. Maar die wysheid is geregverdig deur sy kinders.
Die drie onboetvaardige stede.
20TOE het Hy die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, begin verwyt, omdat hulle hul nie bekeer het nie:
21Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het.
22Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle.
23En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe.
24Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou.
Die juk van Jesus.
25IN daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.
26Ja, Vader, want so was dit u welbehae.
27Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.
28Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;
30want my juk is sag en my las is lig.