Die profetiese rede. Die begin van die smarte.
1EN Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys.
2En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.
3En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?
4En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.
5Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
6En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.
7Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
8Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte.
9Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.
10En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.
11En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
12En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
13Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
14En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.
Die profetiese rede (vervolg). Die groot verdrukking.
15WANNEER julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet —
16dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;
17wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie;
18en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie.
19Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae.
20En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie.
21Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.
22En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.
23As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! — moet dit nie glo nie.
24Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
25Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.
26As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn — moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie.
27Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
28Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.
Die profetiese rede (vervolg.) Die koms van die Seun van die mens.
29EN dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.
30En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.
31En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.
32En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
33So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.
34Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.
35Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
Die profetiese rede (vervolg). Vermaning om waaksaam te wees.
36MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.
37En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
38Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,
39en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
40Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
41Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
42Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.
43Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.
44Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.
Die profetiese rede (vervolg). Gelykenis van die twee diensknegte.
45WIE is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee?
46Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.
47Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.
48Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom —
49en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink,
50dan sal die heer van dié dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie en op 'n uur dat hy dit nie weet nie;
51en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande.