Nehemía se verdere hervorminge.
1OP dié dag is daar voor die ore van die volk voorgelees uit die boek van Moses, en daarin het geskrywe gestaan dat geen Ammoniet of Moabiet tot in ewigheid in die vergadering van God mag kom nie,
2omdat hulle die kinders van Israel nie teëgekom het met brood en water nie, en Bíleam teen hulle gehuur het om hulle te vervloek; maar onse God het die vloek in 'n seën verander.
3En toe hulle die wet hoor, het hulle al die mense van gemengde bloed uit Israel afgesonder.
4Maar tevore het Éljasib, die priester wat oor die kamers van die huis van onse God aangestel was, 'n verwant van Tobía,
5vir hom 'n groot kamer ingerig waar hulle vroeër die spysoffer, die wierook en die gereedskappe en die tiendes van koring, mos en olie, die wettige aandeel van die Leviete en die sangers en die poortwagters, en die offergawe aan die priesters neergesit het.
6Maar gedurende dit alles was ek nie in Jerusalem nie; want in die twee-en-dertigste jaar van Artasásta, die koning van Babel, het ek by die koning gekom; en ná verloop van tyd het ek verlof gevra van die koning
7en na Jerusalem gekom. Toe het ek die kwaad opgemerk wat Éljasib gedoen het deur vir Tobía 'n kamer in die voorhowe van die huis van God in te rig.
8En ek was erg ontstemd, sodat ek al die huisraad van Tobía uit die kamer buitentoe gegooi het,
9met die bevel dat hulle die kamers moes reinig; en ek het die gereedskappe van die huis van God, die spysoffer en die wierook daarin teruggebring.
10Ook het ek verneem dat die aandele van die Leviete nie gegee is nie, sodat die Leviete en die sangers wat die dienswerk moes verrig, elkeen na sy grond gevlug het.
11En ek het met die leiers getwis en gesê: Waarom is die huis van God in verwaarlosing? En ek het hulle bymekaar laat kom en hulle weer op hulle pos aangestel.
12En die hele Juda het die tiendes van koring en mos en olie na die voorraadkamers gebring.
13En oor die voorraadkamers het ek Selémja, die priester, en Sadok, die skrywer, en Pedája, uit die Leviete, as skatmeesters aangestel; en as hulp vir hulle: Hanan, die seun van Sakkur, die seun van Mattánja, omdat hulle vertroubaar geag is; en hulle moes aan hulle broers uitdeel.
14Dink hierom aan my, my God, en delg tog my liefdediens nie uit wat ek aan die huis van my God en aan die instellinge daarvan bewys het nie.
15In dié dae het ek in Juda mense gesien wat op die sabbat die parskuipe trap en vragte koring, op esels gelaai, inbring, en ook wyn, druiwe en vye en allerhande vragte met goed, en dit op die sabbatdag in Jerusalem inbring; en ek het hulle gewaarsku op die dag toe hulle lewensmiddele verkoop het.
16Ook die Tiriërs wat daar gewoon het, het vis en allerhande koopware ingebring en op die sabbat aan die kinders van Juda selfs in Jerusalem verkoop.
17En ek het met die edeles van Juda getwis en vir hulle gesê: Watter verkeerde ding is dit wat julle doen, dat julle die sabbatdag ontheilig?
18Het julle vaders nie so gehandel, sodat onse God oor ons en oor hierdie stad al hierdie onheil gebring het nie? Ja, julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die sabbat te ontheilig!
19En sodra dit in die poorte van Jerusalem voor die sabbat donker was, het ek gesê dat die deure gesluit moes word; en ek het gesê dat hulle dit nie mag oopmaak tot ná die sabbat nie, en van my mense het ek by die poorte aangestel: geen vrag het op die sabbatdag mag inkom nie.
20Toe het die koopmans en handelaars in allerhande koopware 'n paar keer buitekant Jerusalem vernag.
21Maar ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: Waarom vernag julle voor die muur? As julle dit weer doen, sal ek die hand aan julle slaan. Van dié tyd af het hulle nie meer op die sabbat gekom nie.
22Verder het ek aan die Leviete gesê dat hulle hul moes reinig en kom as poortwagters om die sabbatdag te heilig. Dink ook hierom aan my, my God, en ontferm U oor my na die grootheid van u goedertierenheid.
23In dié dae het ek ook Jode gesien wat Asdodiese, Ammonitiese, Moabitiese vroue getrou het.
24En van hulle kinders het die helfte Asdodies gepraat, of die taal van watter volk ook al; maar hulle kon geen Joods praat nie.
25Daarom het ek met hulle getwis en hulle gevloek, en sommige van hulle geslaan en die hare uitgepluk en hulle by God besweer: Julle mag julle dogters nie aan hulle seuns gee, en julle mag nie van hulle dogters vir julle seuns of vir julleself neem nie!
26Het Salomo, die koning van Israel, nie deur hulle gesondig nie? Alhoewel daar onder baie nasies nie 'n koning gewees het soos hy nie en hy 'n liefling van sy God was, sodat God hom as koning aangestel het oor die hele Israel, het die vreemde vroue hom tog sonde laat doen.
27Moet ons nou van julle hoor dat julle al hierdie groot kwaad doen, om ontrou te handel teen God deur vreemde vroue te trou?
28En een van die seuns van Jójada, die seun van die hoëpriester Éljasib, was 'n skoonseun van Sanbállat, die Horoniet; daarom het ek hom van my af weggeja.
29Dink aan hulle, my God, oor die bevlekking van die priesterskap en van die verbond met die priesterskap en met die Leviete.
30So het ek hulle dan gereinig van al wat vreemd was, en die diensordeninge vir die priesters en die Leviete vasgestel, vir elkeen in sy werk,
31ook vir die lewering van hout op vasgestelde tye en vir die eerstelinge. Dink aan my, my God, ten goede!