PSALM 46
God is 'n toevlug.
1VIR die musiekleier. Van die kinders van Korag. Met sopraanstemme. 'n Lied.
2God is vir ons 'n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.
3Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see.
4Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela.
5Die stroompies van 'n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste.
6God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek.
7Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.
8Die Here van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela.
9Kom, aanskou die dade van die Here, wat verskriklike dinge oor die aarde bring,
10wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.
11Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.
12Die Here van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.