Hulp teenoor vermetele rowers.
1VIR die musiekleier; op die wysie van: „Moenie verwoes nie.” Van Dawid. 'n Gedig, toe Saul gestuur het en hulle die huis laat bewaak het om hom dood te maak.
2Red my van my vyande, o my God! Beskerm my teen my teëstanders!
3Red my van die werkers van ongeregtigheid, en verlos my van die manne van bloed!
4Want kyk, hulle lê en loer op my lewe; sterkes val my aan, sonder oortreding en sonder sonde van my kant, o Here!
5Buiten my skuld hardloop hulle en maak hulle klaar. Ontwaak, my tegemoet, en kyk!
6Ja U, Here, God van die leërskare, God van Israel, word wakker om oor al die heidene besoeking te doen; wees al die ongeregtige trouelose nie genadig nie! Sela.
7Elke aand kom hulle terug; hulle huil soos honde en dwaal deur die stad.
8Kyk, hulle smaal met hul mond; swaarde is op hulle lippe, want — wie sou dit hoor?
9Maar U, o Here, lag oor hulle; U spot met al die heidene.
10My Sterkte, op U wil ek wag, want God is my rotsvesting.
11My genadige God sal my tegemoetkom; God sal my op my vyande laat neersien.
12Moet hulle nie ombring nie, sodat my volk dit nie vergeet nie: laat hulle rondswerwe deur u krag, en werp hulle neer, o Here, ons Skild!
13Sonde van hulle mond is die woord van hulle lippe; laat hulle dan gevang word in hul trots, en vanweë die vloek en die leuen wat hulle vertel.
14Vernietig hulle in grimmigheid, vernietig hulle, sodat hulle daar nie meer is nie; en laat hulle weet dat God heers in Jakob, tot by die eindes van die aarde! Sela.
15En elke aand kom hulle terug; hulle huil soos honde en dwaal deur die stad.
16Húlle swerwe rond om voedsel te soek; as hulle nie versadig word nie, vertoef hulle die hele nag.
17Maar ék sal sing van u sterkte en elke môre jubel oor u goedertierenheid, want U was 'n rotsvesting vir my en 'n toevlug in die dag toe ek benoud was.
18My Sterkte, tot u eer wil ek psalmsing, want God is my rotsvesting, my genadige God.