PSALM 97
Die Here regeer!
1DIE Here is Koning; laat die aarde juig; laat baie eilande bly wees!
2Wolke en donkerheid is rondom Hom; geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon.
3'n Vuur gaan voor sy aangesig uit en steek sy teëstanders rondom aan die brand.
4Sy bliksems verlig die wêreld; die aarde sien dit en bewe.
5Berge smelt weg soos was voor die aangesig van die Here, voor die aangesig van die Here van die hele aarde.
6Die hemele verkondig sy geregtigheid, en al die volke sien sy heerlikheid.
7Beskaamd staan almal wat die beelde dien, wat hulle op afgode beroem; al die gode buig hulle voor Hom neer.
8Sion hoor dit en is bly, en die dogters van Juda juig oor u oordele, o Here!
9Want U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde; U is hoog verhewe bo al die gode.
10o Liefhebbers van die Here, haat die kwaad! Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose.
11Die lig is vir die regverdige gesaai en vrolikheid vir die opregtes van hart.
12o Regverdiges, wees bly in die Here, en loof sy heilige gedenknaam!
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.