1EK is 'n narsing van Saron, 'n lelie van die dale.
2Soos 'n lelie tussen die dorings, so is my vriendin onder die dogters.
3Soos 'n appelboom onder die bome van die bos, so is my beminde onder die seuns. Ek het verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte.
4Hy het my in die wynhuis ingebring, en sy vaandel oor my was die liefde.
5Versterk my met rosynekoeke, verkwik my met appels, want ek is krank van liefde.
6Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels.
7Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.
8Hoor, my beminde, kyk, daar kom hy! Hy spring oor die berge, hy huppel oor die heuwels.
9My beminde lyk soos 'n gemsbok of soos 'n jong takbok. Daar staan hy agter ons muur! Hy kyk deur die vensters in, hy speur deur die tralies heen.
10My beminde begin toe en sê vir my: Staan op, my vriendin, my skone, kom dan tog!
11Want kyk, die winter is verby, die reëntyd is oor, dit het verbygegaan.
12Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor in ons land.
13Die vyeboom laat sy voorvye uitswel, en die wingerdstokke wat bloei, versprei geur. Staan op, my vriendin, my skone, kom dan tog!
14My duif in die rotsklowe, in die skuilplek by die krans, laat my u gedaante sien, laat my u stem hoor; want u stem is soet, en u gedaante is lieflik.
15Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei.
16My beminde is myne, en ek is syne wat herder is onder die lelies.
17Totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug, kom aan, my beminde, maak soos die gemsbok of soos die jong takbok op die berge van skeiding.