Paulus verdedig hom voor Agrippa
1Agrippa sê toe vir Paulus: “Jy kan maar jou saak stel.”
Met 'n handbeweging het Paulus sy verdediging begin: 2“Koning Agrippa, ek ag my gelukkig dat ek my vandag juis voor u teen al die beskuldigings van die Jode kan verdedig, 3veral omdat u so goed bekend is met al die Joodse gebruike en twisvrae. Ek versoek u dus om geduldig na my te luister.
4“Al die Jode ken my geskiedenis van jongs af. Van die begin af het ek tussen my volk en in Jerusalem gewoon. 5Hulle ken my al lankal en kan getuig, as hulle wil, dat ek my hele lewe lank lid was van die Fariseërs, die strengste party van ons godsdiens. 6En nou staan ek tereg omdat ek my hoop gevestig het op die belofte wat God aan ons voorvaders gemaak het. 7Ons twaalf stamme dien God nougeset dag en nag juis omdat hulle die hoop het dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Oor hierdie hoop, U Majesteit, word ek deur die Jode beskuldig. 8Waarom is dit vir u en ander onmoontlik om te glo dat God dooies opwek?
9“Ek het self gedink dat ek alles in my vermoë moes doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. 10Dit het ek toe ook in Jerusalem gedoen. Met die magtiging van die priesterhoofde het ek baie van die gelowiges in tronke gestop, en as hulle die doodstraf opgelê word, het ek daarmee saamgestem. 11Dikwels het ek hulle in al die sinagoges laat straf om hulle te dwing om hulle geloof af te sweer. Ek het hulle so gehaat dat ek hulle selfs in die buitelandse stede vervolg het.
12“Terwyl ek hieroor na Damaskus toe op reis was, met volmag en in opdrag van die priesterhoofde, 13het ek, U Majesteit, helder oordag langs die pad 'n lig gesien wat uit die hemel gekom het. Dit was helderder as die son en dit het op my en my reisgenote geskyn. 14Ons het almal op die grond neergeval, en ek het 'n stem in Hebreeus vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer deur jou te verset.’ 15‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. ‘Ek is Jesus,’ sê die Here. ‘Dit is vir My wat jy vervolg. 16Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. 17Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heidennasies na wie toe Ek jou stuur. 18Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.’
19“Van toe af, koning Agrippa, was ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam nie. 20Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die heidennasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas. 21Daarom het die Jode my by die tempel aangeval en probeer vermoor. 22Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het: 23Die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan. Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring.”
24Terwyl Paulus hom nog so verdedig, skreeu Festus: “Jy's mal, Paulus! Jou groot geleerdheid maak jou mal!”
25Maar Paulus sê: “Ek is nie mal nie, U Edele, maar onder die leiding van die Heilige Gees praat ek die waarheid wat elkeen kan verstaan. 26Die koning weet van hierdie dinge, en daarom praat ek openhartig met hom. Ek is seker dat dit nie sy aandag ontgaan het nie, want dit het nie êrens in 'n hoekie gebeur nie. 27Koning Agrippa, glo u die profete? Ek weet u glo.”
28Agrippa sê toe vir Paulus: “Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou 'n Christen maak.”
29“Of dit nou gou-gou gebeur of langer duur,” antwoord Paulus, “ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, sal word wat ek is, natuurlik net sonder hierdie boeie.”
30Die koning het opgestaan en saam met hom ook die goewerneur en Bernice, met hulle gevolg. 31Toe hulle uitgaan, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man het niks gedoen wat die dood of tronkstraf verdien nie.”
32Agrippa sê toe vir Festus: “Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.”