Elifas: Wie het onskuldig te gronde gegaan?
1Toe sê Elifas die Temaniet:
2“Sal dit jou vermoei as iemand met jou redeneer?
Ek kan nie stilbly nie.
3Jy het self baie mense reggehelp
en dié wat moed verloor het, het jy weer moed ingepraat.
4Jou woorde het dié wat struikel, opgebeur,
dié wat wou val, het jy weer opgehelp.
5Nou het die ramp jou getref, en jy is platgeslaan;
dit het jou oorgekom, en jy is verslae.
6Beteken dit dan vir jou niks dat jy God gedien het nie,
gee jou vrome lewe jou geen hoop nie?
7“Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan?
Waar is regverdiges ooit uitgewis?
8Ek het ondervind: dié wat onreg plant
en moeilikheid saai, oes dit ook.
9Deur die toorn van God gaan hulle te gronde,
deur sy woede gaan hulle tot niet.
10Hulle is soos leeus,
maar hoe 'n leeu ook al brul of grom,
as sy tande uitgebreek word,
11gaan selfs die sterkste leeu dood van die honger
en kom sy kleintjies om.”
Elifas: Kan 'n mens ooit onskuldig wees in die oë van God?
12“'n Woord het geheimsinnig by my gekom,
my oor het die fluistering daarvan opgevang.
13In die tyd wanneer ander diep slaap,
is ek ontstel deur 'n gesig in die nag.
14Vrees en angs het my oorval,
my liggaam het verskriklik gebewe.
15'n Gees het voor my verby gesweef,
en my hare het orent gaan staan.
16“Die gees het stil gaan staan.
Hoe hy lyk, kon ek nie sien nie,
daar was net 'n gedaante voor my.
Dit was stil en toe hoor ek 'n stem:
17‘Kan 'n mens ooit onskuldig wees in die oë van God
en sonder blaam voor sy Maker staan?
18In sy hemelse dienaars stel Hy geen vertroue nie,
voor Hom is selfs sy engele vol gebreke,
19hoeveel te meer hulle wat in huise van klei woon,
mense wat uit stof opgebou is,
mense wat soos 'n mot pap gedruk kan word.
20Tussen oggend en aand word hulle vernietig,
hulle verdwyn vir altyd en word vergeet,
21hulle gaan tot niet,
hulle sterf sonder dat hulle wysheid verwerf het.’