Die gelykenis van die bruilof
1Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. 2Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees voorberei het. 3Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’
5“Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan. 6En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. 7Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.
8“Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. 9Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’ 10Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.
11“Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar 'n man wat nie bruilofsklere aanhet nie, 12en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. 13Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’
14“Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”
Die vraag oor die betaal van belasting
15Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met 'n vraag in 'n val te lok. 16Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. 17Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”
18Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My 'n strik? 19Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”
Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, 20en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”
21“Die keiser s'n,” antwoord hulle.
Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”
22Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.
Die vraag oor die opstanding uit die dood
23Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: 24“Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ 25Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou. 26Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe. 27En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe. 28Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”
29Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. 30Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. 31En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: 32‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.”
33Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.
Die vraag oor die grootste gebod
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”
37Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”
Die vraag oor die Seun van Dawid
41Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: 42“Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?”
“Dawid s'n,” antwoord hulle Hom.
43Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog:
44“ ‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’
45“As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”
46Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.