Mirjam se straf
1Mirjam en Aäron het vir Moses aangespreek oor die Kussitiese vrou wat hy gevat het, want hy het met 'n Kussitiese vrou getrou. 2“Het die Here dan net deur Moses gepraat,” wou hulle ook nog weet, “en nie ook deur ons nie?”
Die Here het dit gehoor.
3Moses was 'n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde.
4Die Here het onmiddellik vir Moses, Aäron en Mirjam gesê: “Gaan julle aldrie na die tent van ontmoeting toe!” En hulle drie het gegaan. 5Die Here het toe in 'n wolk afgekom, by die ingang van die tent gaan staan en Aäron en Mirjam nader geroep. Toe hulle twee nader kom, 6het die Here gesê:
“Luister na wat Ek sê:
As daar 'n profeet van die Here onder julle is,
maak Ek My aan hom bekend deur visioene
en praat Ek met hom in drome.
7Maar met my dienaar Moses is dit anders.
Hy is die betroubaarste in my diens.
8Met hóm praat Ek direk en persoonlik,
nie in raaisels nie.
Hy sien selfs die gestalte van die Here.
Waarom was julle dan nie bang
om só met my dienaar Moses te praat nie?”
9Die toorn van die Here het teen hulle ontvlam en Hy het van hulle af weggegaan. 10Toe die wolk van die tent af optrek, staan Mirjam daar melaats soos sneeu. Toe Aäron na Mirjam toe draai, is sy melaats. 11Hy het vir Moses gesê: “Asseblief, Meneer, moet tog nie die sonde wat ons in dwaasheid begaan het, teen ons hou nie. 12Laat sy tog nie wees soos 'n doodgebore kind waarvan die liggaam by geboorte al halfpad verteer is nie.”
13Toe het Moses die Here aangeroep en gesê: “Maak haar tog gesond, o God!”
14Die Here het vir Moses geantwoord: “As haar pa haar in die gesig gespoeg het, sou dit nie vir sewe dae lank vir haar 'n skande gewees het nie? Laat sy dan nou sewe dae lank uit die kamp uitgesluit word, en daarna kan sy terugkom.”
15Hulle het Mirjam toe sewe dae lank uit die kamp uitgesluit, en die volk het nie verder getrek voordat sy teruggekom het nie. 16Daarna het die volk van Gaserot af weggetrek en in die Paranwoestyn kamp opgeslaan.