U het my gebed verhoor
1Vir die koorleier: op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”. 'n Psalm van Dawid.
2My God, my God, waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is 'n wurm, nie 'n mens nie.
Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor!
Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
13'n Wreedaardige klomp mense het my omsingel,
soos beeste uit Basan staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos 'n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here – moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu
en tussen die horings van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien, prys Hom!
Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet,
en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.