Hiskia stuur boodskappers na Jesaja toe
1Toe koning Hiskia dit hoor, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek en na die tempel gegaan. 2Die koning het die amptenare Eljakim en Sebna, en die leiers van die priesters na die profeet Jesaja toe gestuur. Jesaja was die seun van Amos. Hulle het rouklere aangehad. 3Hulle het vir Jesaja gesê: “Hiskia sê hierdie dag is 'n slegte dag, die Here straf ons vandag. Dit lyk of die Here ons gelos het. Dit is soos wanneer 'n baba al amper gebore word, maar sy ma is te swak om die baba te kry. 4Miskien het jou God die Here gehoor wat die hoof-offisier gesê het. Dit is sy koning, die koning van Assirië, wat hom gestuur het om sleg te praat oor die God wat lewe. Miskien sal jou God die Here die koning van Assirië straf oor wat die koning gesê het. Ons wat nog lewe, is min, maar bid asseblief vir ons.”
5Toe die amptenare van koning Hiskia by Jesaja kom, 6sê Jesaja vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê die Here sê: Hiskia, jy het gehoor toe die offisiere van die koning van Assirië sleg gepraat het oor My, maar jy moenie bang wees daaroor nie. 7Ek sal die koning van Assirië bang laat word. Hy sal 'n boodskap kry en hy sal teruggaan na sy eie land. Daar in sy land sal iemand hom doodsteek.”
Die koning van Assirië stuur weer boodskappers na Hiskia toe
8Die hoof-offisier het teruggegaan. Hy het gehoor dat die koning van Assirië weggegaan het van die stad Lakis en dat hy teen die stad Libna oorlog maak. Die hoof-offisier het die koning by Libna gekry. 9Die koning het gehoor dat Tirhaka, die koning van die land Kus, kom om oorlog te maak teen hom. Toe die koning dit hoor, het hy boodskappers na Hiskia toe gestuur. Hy het vir die boodskappers gesê 10hulle moet vir koning Hiskia van Juda sê: “Hiskia, jy glo in jou God, maar jy moenie dat Hy jou bedrieg nie. Jou God sê die koning van Assirië sal nie Jerusalem oorwin nie. Dit is nie waar nie. 11Jy het self gehoor wat die koning van Assirië gedoen het met al die ander lande. Hy het daardie lande verwoes. Wie sal jou red? 12Het die ander volke se gode hulle gered toe my voorvaders hulle oorwin het? Nee. My voorvaders het al die mense van die stede Gosan en Haran oorwin, en ook die mense van die stad Resef en die mense van die land Eden wat in Telassar woon. 13Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa? Hulle is nie meer daar nie.”
Hiskia gaan bid in die tempel
14Hiskia het die briewe geneem wat die boodskappers gebring het, en hy het dit gelees. Toe het Hiskia na die tempel gegaan en hy het die briewe neergesit voor die Here. 15Hiskia het tot die Here gebid en gesê: “Here, God van Israel, u troon is bokant die gerubs. U alleen is God van al die lande op die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak. 16U moet asseblief luister, U moet hoor, U moet kyk en sien en hoor wat Sanherib sê. Hy het boodskappe gestuur om sleg te praat oor U, die God wat lewe. 17Here, die konings van Assirië het al die ander volke en hulle lande verwoes, dit is waar. 18Hulle het die volke se gode in die vuur gegooi. Maar daardie gode was nie waarlik gode nie, mense het hulle gemaak van hout en klip. Daarom het die gode verdwyn. 19En nou, Here, ons God, beskerm ons asseblief teen die koning van Assirië. Doen dit, sodat al die volke op die aarde kan weet dat U alleen Here is.”
Jesaja stuur 'n boodskap vir Hiskia
20Jesaja seun van Amos het vir Hiskia 'n boodskap gestuur. Jesaja het gesê: “Die Here, die God van Israel, sê Hy het gehoor wat jy gebid het oor Sanherib, die koning van Assirië. 21Dit is wat die Here oor Sanherib sê:
“Sanherib, die mense van Sion
lag vir jou,
hulle dink jy beteken niks.
Die mense van Jerusalem
steek hulle tong uit vir jou,
want jy moet nou weggaan.
22Oor wie het jy sleg gepraat?
Vir wie het jy geskree
en teen wie het jy gespog?
Dit was teen die Heilige God
van Israel!
23Jy het jou offisiere gestuur
om sleg te praat oor die Here.
Jy het gesê: ‘Ek het teen
die hoogste berge opgery
met my baie oorlogkarre,
ek het gery tot bo-op
die Libanon-berg.
Ek het die grootste sederbome
afgekap,
die mooiste sipresbome
op die berg.
Ek het gekom tot op
die hoogste plek op die berg,
tot waar die meeste bome is.
24Ek het putte gegrawe
en water gedrink
in ander lande,
ek het al die riviere van Egipte
droog laat word toe ek
deur hulle geloop het.’
25Maar jy moet weet dat Ek
lank gelede besluit het
dat jy dit moet doen.
Ek, die Here, het lank gelede
gesê dit moet so wees,
en nou het Ek dit laat gebeur.
Daarom kon jy stede verwoes,
stede wat sterk mure het.
Daardie stede is nou net
hope klippe.
26Die mense wat in die stede
gewoon het,
was nie sterk nie.
Hulle het geskrik,
hulle het nie geweet
wat om te doen nie.
Hulle was soos die plante
in die veld,
soos groen bossies,
soos gras op die plat dak
van 'n huis.
Die gras word droog
en gaan dood
voordat dit goed kan groei.
27Sanherib, Ek weet alles
wat jy doen,
wanneer jy sit of gaan of kom.
Ek weet ook wat jy alles
teen My gesê het.
28Ek weet wat jy
teen My gesê het,
Ek het gehoor hoe hoogmoedig
jy gepraat het teen My.
Daarom sal Ek 'n vishoek
deur jou neus sit
en Ek sal 'n stang
in jou mond sit.
Ek sal jou lei soos 'n perd,
terug op dieselfde pad
wat jy gekom het.
29“En, Hiskia, Ek sal vir jou 'n teken gee: Hierdie jaar sal julle die koring eet wat self opkom, en volgende jaar sal julle die koring eet wat dan nog self opkom. Maar die jaar daarna sal julle saai en koring afsny, julle sal wingerde plant en druiwe eet. 30Die mense van Juda wat oorgebly het en wat nog lewe, sal wees soos plante wat sterk wortels in die grond het en wat baie vrugte dra. 31Ja, mense sal kom van Jerusalem, van Sionsberg af, mense wat oorgebly het en wat nog lewe. Dit sal gebeur, want die Here wat oor alles regeer, sal die mense van Juda nie alleen los nie.
32“Daarom sê Ek, die Here, hierdie woorde oor die koning van Assirië:
“Hy sal nie in hierdie stad
inkom nie,
hy sal nie hier met sy pyl
en boog skiet nie.
Hy sal nie hier sy skild
kom optel om homself
te beskerm nie.
Hy sal nie grond teen die stad
se muur gooi sodat hy
oor die muur kan klim nie.
33Hy sal teruggaan op die pad
wat hy gekom het,
hy sal nie in hierdie stad
inkom nie.
“Dit het Ek, die Here, gesê. 34Ja, Ek sê:
“Ek sal hierdie stad beskerm
en red,
Ek sal dit doen vir Myself
en vir my dienaar Dawid.”
Koning Sanherib sterf
35Die Engel van die Here het daardie nag gekom en Hy het 185 000 soldate in die kamp van die Assiriërs doodgemaak. Toe die Assiriërs vroeg die volgende oggend opstaan, lê al die dooie soldate daar. 36Koning Sanherib van Assirië het sy tente laat afslaan. Hy het teruggegaan na die stad Nineve en hy het daar gebly. 37Eendag het hy in die tempel van sy god Nisrok gelê en bid. Sy seuns Adrammelek en Sar-Eser het hom daar met swaarde doodgesteek. Hulle het gevlug na die land Ararat, en Sanherib se seun Esar-Haddon het koning geword ná hom.