Dawid laat die volk tel, en die Here straf die volk
1Eendag was die Here weer kwaad vir die Israeliete. Die Here het vir Dawid laat besluit om iets te doen waaroor die Here die Israeliete kon straf. Hy het vir Dawid gesê: “Jy moet die mense van Israel en Juda tel.”
2Die koning het toe vir Joab, die hoof van die leër, gesê: “Jy moet asseblief deur al die stamme van Israel gaan, van die stad Dan tot by die stad Berseba, en jy moet die mense tel. Ek wil weet hoeveel hulle is.”
3Joab het vir die koning gesê: “Ek wens jou God die Here maak die volk 100 maal meer as wat hulle is. Ek wens dat die koning self sal sien dat dit so is. Maar, Meneer die koning, hoekom wil jy hierdie ding doen?”
4Maar die koning het gesê Joab en die offisiere móét dit doen, en hulle moes doen wat die koning gesê het. Hulle het weggegaan van die koning om die volk Israel te tel. 5Hulle het oor die Jordaan-rivier gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan naby die stad Aroër, suid van die stad wat in die vallei is. Daarna het hulle deur die land Gad gegaan en ook deur Jaser. 6Hulle het gekom in die land Gilead en in die land Tagtim-Godsi. En toe het hulle deur Dan-Jaän gegaan en oral tot by die stad Sidon. 7Daarna het hulle gekom by Tirus, die stad wat sterk mure het, en by al die stede van die Hewiete en Kanaäniete, en toe het hulle deur die Suid-land van Juda gegaan tot by die stad Berseba. 8So het hulle deur die hele land gegaan en ná nege maande en 20 dae het hulle weer aangekom in Jerusalem. 9Joab het vir die koning gesê hoeveel mense daar was. Daar was 800 000 manne van Israel wat oorlog kon maak, en daar was 500 000 manne van Juda. 10Maar nadat Dawid die volk laat tel het, het hy geweet dat hy verkeerd gedoen het. Hy het vir die Here gesê: “Here, ek het 'n groot sonde gedoen, maar vergewe asseblief my sonde, want ek het 'n baie dom ding gedoen.”
11Die profeet Gad was Dawid se siener. Toe Dawid die volgende oggend opstaan, het die Here vir Gad gesê: 12“Jy moet vir Dawid gaan sê Ek sê: Dawid, Ek noem drie dinge vir jou. Jy moet een kies, dan sal Ek dit met jou laat gebeur.”
13Gad het na Dawid toe gegaan en hy het vir Dawid die boodskap gebring en gesê: “Wil jy hê daar moet sewe jaar lank hongersnood wees in jou land, of wil jy drie maande lank vlug vir jou vyande wat jou volg en jaag, of wil jy hê daar moet drie dae lank pes wees in jou land? Jy moet besluit en vir my sê wat ek moet sê vir Hom wat my gestuur het.”
14Dawid het vir Gad gesê: “Ek het 'n groot probleem. Die Here moet met my doen wat Hy besluit, want Hy is baie genadig, maar Hy moenie my vir mense gee sodat hulle met my kan doen wat hulle wil nie.”
15Die Here het pes laat kom in die land Israel van die oggend tot die tyd wat Hy gesê het. Daar het 70 000 mense gesterf, van die stad Dan tot by die stad Berseba. 16Toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om die mense van die stad te laat sterf, het die Here besluit dat die straf moet ophou. Hy het vir die engel wat die mense laat sterf het, gesê: “Stop, dit is nou genoeg, laat sak jou hand.”
Die engel van die Here was by die dorsvloer van die Jebusiet Arauna.
Dawid koop die dorsvloer van Arauna
17Toe Dawid die engel sien wat die mense laat sterf, het hy vir die Here gesê: “Dit is ék wat sonde gedoen het, dit is ék wat verkeerd gedoen het. Wat het hierdie mense verkeerd gedoen? Niks. U moet mý en my familie straf.”
18Gad het daardie dag by Dawid gekom en vir hom gesê: “Jy moet gaan en jy moet vir die Here 'n altaar bou op die dorsvloer van die Jebusiet Arauna.”
19Dawid het gegaan soos Gad gesê het, hy het gaan doen wat die Here beveel het. 20Arauna het gekyk en gesien die koning en sy amptenare kom na hom toe. Arauna het uitgegaan en hy het voor die koning gebuig met sy gesig teen die grond. 21Hy het gevra: “Hoekom kom Meneer die koning na my toe?”
Dawid het gesê: “Ek kom om jou dorsvloer te koop. Ek moet vir die Here 'n altaar bou sodat die mense kan ophou sterf.”
22Arauna het vir Dawid gesê: “Meneer die koning moet neem wat jy wil hê en jy moet offer wat jy wil offer. Kyk, hier is beeste vir die brand-offer en hier is die dors-sleë en die jukke vir brandhout. 23Koning, ek gee dit alles vir jou.”
24Die koning het vir Arauna gesê: “Nee, ek wil dit van jou koop, jy moet sê hoeveel ek moet betaal. Ek wíl dit doen. Ek sal nie vir my God die Here brand-offers bring as ek nie daarvoor betaal het nie.”
Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop, hy het 50 sikkels silwer betaal. 25Dawid het daar 'n altaar vir die Here gebou en hy het brand-offers en ete-offers gebring. Die Here het sy offers vir die land aanvaar, en die mense van Israel het opgehou sterf.