1Moabiete, julle moet vir die koning van die land Juda
'n skaap-ram stuur,
julle moet dit uit Sela
in die woestyn na Sionsberg stuur.
2Die vroue van Moab
sal by die driwwe deur die Arnon-rivier kom
soos voëltjies wat probeer vlieg
wanneer die groot voëls hulle uit die nes geskop het.
3Hulle sal vir die mense van Juda vra:
“Sê vir ons wat ons moet doen,
maak 'n plan, beskerm ons.
Julle moet vir ons wees
soos 'n donker skaduwee
wanneer dit warm is.
Julle moet die mense wegsteek
wat na julle toe vlug,
julle moenie sê waar hulle is nie.
4Mense het gevlug uit Moab,
julle moet hulle by julle laat woon,
julle moet hulle by julle laat wegkruip
om hulle te beskerm teen die mense
wat hulle wil doodmaak.”
Mense van Juda,
die mense wat vir julle verdruk het,
sal verdwyn.
Hulle sal nie aanhou
om julle te laat swaarkry
en om julle land te vertrap nie.
5Die Here wat lief is vir julle,
sal dan iemand koning maak
van die nageslag van koning Dawid.
Dit sal iemand wees wat koning mag wees,
iemand wat regverdig regeer
en wat weet hoe om reg te doen.
6Ons het gehoor dat die Moabiete
hoogmoedig en trots is.
Hulle dink hulle is wonderlik,
maar hulle het niks om oor te spog nie.
7Daarom huil die een Moabiet
oor die ander een,
hulle almal huil,
hulle is moedeloos,
hulle huil oor die rosyntjies
van die stad Kir-Geres,
8want die wingerde by die stede Gesbon en Sibma
het verdroog.
Mense wat regeer oor volke,
het dronk geword van die rooi wyn.
Die wingerde se ranke het gegroei
tot by die stad Jaser, tot in die woestyn.
Die ranke het verder en verder gegroei
tot verby die see.
9Daarom huil ek nou
saam met die mense van Jaser
oor die wingerd van die stad Sibma,
ek huil baie trane
saam met die mense van Gesbon en Elale,
want daar is nie vrugte en koring
waaroor hulle kan sing nie.
10Daar is niks vrugte aan die vrugtebome
waaroor hulle bly kan wees nie,
daar is niks in die wingerd
waaroor die mense kan sing nie.
Niemand trap druiwe
in die parskuipe nie.
Die Here sê:
“Die mense sal nie meer bly wees
oor die vrugte wat hulle gepluk het
en oor die koring wat hulle afgesny het nie.
Ek het dit gestop.
11Ek is baie hartseer
oor Moab en Kir-Geres,
Ek huil soos 'n lier.
12Die Moabiete gaan
na die offer-plekke en tempels
om te bid en om baie offers te bring,
maar dit sal nie help nie.”
13Dit is wat die Here voorheen oor Moab gesê het.
14En nou sê die Here:
“Hulle het drie jaar lank
swaargekry soos 'n dagloner,
nou sal niemand meer dink
dat die Moabiete belangrik is nie.
Min van hulle mense sal nog lewe
en hulle sal niks beteken nie.”