Damaskus sal verdwyn
1Die Here was kwaad vir die mense van die stad Damaskus.
Hy het gesê Damaskus sal verdwyn,
dit sal nie meer 'n stad wees nie,
dit sal net 'n hoop klippe wees.
2Die mense sal weggaan
uit die stede by Aroër.
Skape en bokke
sal in die stede lê en rus,
en niemand sal hulle skrikmaak nie.
3Daar sal nie stede met sterk mure
in Efraim wees, soos voorheen nie,
en Damaskus sal nie meer 'n koning hê nie.
Dit sal met die mense wat nog lewe in Damaskus,
gaan soos met die mense van Israel.
Dit sê die Here wat oor alles regeer.
Die mense sal vra die Heilige God moet hulle help
4Daardie dag sal die mense van Israel
nie meer sterk wees nie,
hulle sal swak en arm wees.
5Dit sal wees soos wanneer iemand
in Spook-laagte
die koring-are bymekaarvat en afsny
en dan al die koring-are bymekaarmaak.
6Maar daar sal 'n paar van die mense
van Israel oorbly.
Dit sal wees soos wanneer 'n boer
die olywe van 'n olyfboom afgeslaan het,
en net 'n paar olywe bly oor
aan die boonste takkies.
Dit sê die Here, die God van Israel.
7Daardie dag sal die mense kyk
na die God wat hulle gemaak het,
hulle sal vir die Heilige God van Israel
vra om hulle te help.
8Hulle sal nie glo dat
die altare van die afgode
hulle kan help nie,
of die gewyde pale
of die wierook-altare nie.
Dit is altare wat hulle self gemaak het.
9Daardie dag sal die stede wat sterk mure het,
leeg wees,
so leeg soos die bos
toe die ander volke vir die Israeliete gevlug het.
10Ja, Israeliete, julle het weggegaan
van die God wat julle gered het,
julle het die Rots vergeet
by wie julle veilig was.
Julle maak mooi tuine
en julle plant daar vreemde plante.
11Maar as die plante groot word
en blomme kry
dieselfde dag wanneer julle hulle plant,
dan sal dit ook niks help nie.
Wanneer julle siek en swak word,
dan sal die plante julle nie gesond maak nie.
Die volke wat nou baie raas, sal vlug
12Dit sal sleg gaan
met die baie volke wat nou baie raas.
Hulle raas soos die see,
hulle raas hard soos baie water.
13Hulle raas soos die groot branders,
maar wanneer die Here kwaai met hulle praat,
dan vlug hulle ver weg.
Hulle word soos kaf
of soos 'n bol gras wat wegwaai
in die sterk wind.
14In die aand is almal nog bang vir die volke,
maar voordat dit oggend is, is hulle weg.
Dit is wat sal gebeur met die mense
wat nou ons goed vat.