Ek sal my mense red
1Wie is hierdie persoon
wat uit die land Edom kom,
uit die stad Bosra?
Wie se klere is so vol rooi kolle?
Wie is dit
wat die klere van 'n koning dra
en wat hier aankom en lyk
of hy baie sterk is?
Die Here het gesê:
“Dit is Ek wat kom sê
Ek het die oorlog gewen
en Ek sal my mense red.”
2Maar hoekom is u klere so rooi?
Hoekom lyk dit of U druiwe getrap het
in 'n parskuip?
3Die Here het gesê:
“Ek het alleen druiwe getrap
in die parskuip,
daar was niemand saam met My nie.
Ek was kwaad
en Ek het die volke getrap,
Ek het hulle plat getrap,
en hulle bloed het op my klere gespat.
My klere het vol bloed geword.
4Dit is nou die regte tyd.
Ek wou my vyande straf
en my volk vrymaak.
5Ek het gekyk
en Ek was verbaas,
daar was niemand om My te help nie.
Toe het Ek dit self gedoen.
Ek was kwaad
en Ek het dit self gedoen.
6Ek was kwaad
en Ek het volke plat getrap,
Ek het hulle doodgetrap
en hulle bloed in die grond
laat wegvloei.”
Ek wil vertel wat die Here gedoen het
7Ek wil vertel wat die Here gedoen het
omdat Hy lief was vir ons,
ek wil Hom prys
oor wat Hy gedoen het.
Ek wil praat oor alles
wat die Here vir ons gedoen het.
Hy het aangehou
om goed te doen aan die volk Israel,
Hy het dit gedoen
omdat Hy jammer was vir hulle
en baie lief was vir hulle.
8Die Here het gesê:
“Regtig, hulle is my volk,
hulle is kinders
wat nie vir My sal lieg nie.”
Daarom het Hy hulle gered,
9elke maal wanneer dit sleg gegaan het
met hulle.
Hy was nie hulle vyand nie,
Hy was 'n Engel,
en Hy self het hulle gered.
Hy het hulle vrygemaak
omdat Hy lief was vir hulle
en jammer was vir hulle.
Hy het hulle opgetel en gedra,
elke dag, lank gelede.
10Maar hulle was opstandig,
hulle het sy Heilige Gees hartseer gemaak.
Toe het die Here verander.
Hy het hulle vyand geword
en Hy het teen hulle oorlog gemaak.
11Hy het gedink aan lank gelede,
aan Moses en sy volk.
Die Here het sy volk deur die see gebring
saam met Moses,
die leier van sy volk.
Die Here het sy Heilige Gees
saam met hulle laat gaan,
12Hy het sy krag vir Moses gegee
en Hy het die water
voor hulle oopgemaak.
Die mense sal dit altyd onthou.
13Die Here het sy volk
deur die diep see laat loop.
Nie een se voet het vasgesit nie,
hulle het geloop
soos 'n perd op droë grond.
14Die Gees van die Here het ons
tot by ons woonplek gebring.
Hy het ons gelei soos beeste
wat ondertoe loop in 'n vallei.
Die mense sal dit altyd onthou.
Is U nie meer lief vir ons nie?
Maar waar is die Here nou?
15Here in die hemel, kyk na ons
uit u gewyde en pragtige woonplek.
Is U nie meer lief vir ons nie?
Is U nie meer sterk nie?
Is U nie meer bekommerd oor ons nie?
Is U nie meer jammer vir ons nie?
16Ja, U is ons Vader.
Abraham of Jakob is nie ons vader nie.
Hulle weet nie van ons nie.
Here, U is ons Vader,
U is nog altyd ons Bevryder,
dit is u Naam.
17Here, hoekom laat U ons
weggaan van u pad?
Hoekom maak U ons hardkoppig
sodat ons U nie dien nie?
Kom terug na ons toe,
na u dienaars, die stamme
wat aan U behoort.
18U gewyde volk het net 'n kort tydjie
in die land gewoon.
Toe het ons vyande gekom
en hulle het u tempel verwoes.
19Ons het geword soos mense
oor wie U nooit regeer het nie,
soos mense wat nie aan U behoort nie.