Die vyande spot, maar Nehemia en sy mense bou die muur
1Toe Sanballat hoor dat ons die muur bou, het hy baie kwaad geword. Hy was ontsteld en hy het die Judeërs gespot. 2Die ander amptenare en die leër van Samaria het gehoor wat hy sê. Hy het gesê: “Wat doen die Judeërs? Hulle is swak en beteken niks. Wil hulle alles self regmaak? Wil hulle offer? Wil hulle alles op een dag klaarmaak? Wil hulle die klippe wat swart gebrand is, onder die hope grond uithaal? Hulle kan nie dit doen nie.”
3Die Ammoniet Tobija was langs Sanballat, en hy het gesê: “As hulle dit regkry om die muur te bou, dan sal 'n jakkals dit kan omstamp as hy teen die muur spring.”
4Ek het gebid en gevra: “Ons God, U moet luister hoe spot hulle ons, U moet hulle vyande vir húlle laat spot. U moet hulle gevangenes laat word in 'n ander land. 5U moet hulle straf, U moenie hulle sonde vergewe nie, nooit nie, want hulle het ons gespot omdat ons die muur bou.”
6Ons het aangehou om die muur te bou. Die muur was die helfte so hoog soos hy moes wees, en die mense het fluks gewerk.
Die Judeërs staan gereed met hulle wapens
7Sanballat en Tobija en die Arabiere en die Ammoniete en die mense van Asdod het baie kwaad geword toe hulle hoor dat die Judeërs die muur regmaak en dat dit goed gaan met die werk. Hulle het gehoor dat amper al die stukkende plekke in die muur weer reg is. 8Hulle het saam planne gemaak om oorlog te maak teen Jerusalem en om alles in die stad deurmekaar te maak. 9Ons het gebid tot ons God en ons het elke dag en nag mense laat wagstaan om te kyk of ons vyande kom. 10Die Judeërs het gesê: “Die mense wat die klippe moet dra, word moeg, en daar is groot hope grond wat hulle moet wegdra. Ons sal nie die muur klaar kan bou nie.”
11Ons vyande het vir mekaar gesê: “Ons sal tussen die Judeërs wees en ons sal hulle doodmaak voordat hulle iets sal weet of sal sien. Dan sal die werk kan ophou.”
12Party Judeërs wat naby ons vyande gewoon het, het vir ons tien maal kom sê dat ons vyande van al die kante kom om ons aan te val. 13Ek het toe vir die mense gesê hulle moet gereedstaan agter die muur op die gelyk plekke, elke familie moet swaarde, spiese en pyl en boë hê. 14Ek het vir die belangrike mense, die leiers en die ander mense, gesê: “Julle moenie bang wees vir die vyande nie, julle moet onthou dat die Here by ons is. Hy is groot, en almal moet bang wees vir Hom. Julle moet veg vir julle broers, vir julle seuns, vir julle dogters, vir julle vroue en julle huise.”
15Ons vyande het gehoor dat ons weet van hulle planne en dat ons weet dat God hulle planne laat misluk het. Ons het toe almal teruggegaan na die muur, elkeen het sy werk daar gaan doen. 16Van daardie dag af het die helfte van my manne gewerk en die ander helfte het gereedgestaan met spiese, skilde, pyl en boë, en harnasse. Die offisiere het gestaan agter al die mense van Juda 17wat die muur gebou het. En die mense wat die klippe moes dra, het klippe gedra met die een hand, en in hulle ander hand het hulle 'n wapen gedra. 18Die manne wat gebou het, het hulle swaarde teen hulle heupe vasgebind, en die man wat die ramshoring moes blaas, was langs my. 19Ek het vir die belangrike mense, vir die leiers en die ander mense, gesê: “Ons werk ver van mekaar op die muur. 20Wanneer julle hoor dat die ramshoring blaas, dan moet julle almal bymekaarkom by ons. Ons God sal vir ons veg.”
21So het ons gewerk terwyl die helfte van ons die spiese gereedgehou het. Ons het gewerk vandat dit lig geword het in die oggend totdat die sterre in die aand uitgekom het. 22Ek het daardie tyd ook vir die mense gesê: “Julle moet hier in Jerusalem slaap, elke man en die man wat vir hom werk moet hier slaap, sodat julle in die nag kan wagstaan en in die dag kan werk.”
23Niemand het sy klere uitgetrek nie, nie ek of my broers of die man wat vir my gewerk het of die manne wat waggestaan het nie. Elkeen het sy spies gereedgehou, ook wanneer hy gewas het.