Die oorlog teen Absalom
1Dawid het gesê die mense by hom moet gereedmaak om oorlog te maak, en hy het offisiere oor hulle gekies en aangestel. 2Hy het die manne in drie groepe verdeel, en hy het hulle gestuur om te gaan veg. Een groep was saam met Joab, een groep was saam met Joab se broer Abisai, en een groep was saam met Ittai van die stad Gat. Dawid het vir die manne gesê: “Ek gaan self ook saam met julle, dit is seker.”
3Maar die manne het gesê: “Nee, jy moenie saamgaan nie. As óns moet vlug, dan maak dit nie saak nie, en as die helfte van ons sterf, dan maak dit ook nie saak nie, want daar is dan nog 10 000 manne soos ons. Dit is beter dat jy in die stad bly en manne stuur om ons te help wanneer ons dit vra.”
4Die koning het vir hulle gesê: “Ek sal doen wat julle wil hê.”
Hy het by die poort gaan staan, en al die manne het uitgekom in groepe van 100 manne en 1 000 manne. 5Die koning het vir Joab en Abisai en Ittai gesê: “Julle moenie die jongman Absalom seermaak nie.”
Al die manne het gehoor wat die koning vir al die offisiere gesê het oor Absalom. 6Die manne het uitgegaan veld toe om oorlog te maak teen die manne van Israel, en die oorlog het begin in die Efraim-bos. 7Die manne van Dawid het daar gewen teen die manne van Israel, en hulle het daardie dag baie manne doodgemaak, 20 000 manne. 8Die oorlog het oor die hele land versprei, en meer mense het daardie dag in die bos gesterf as in die oorlog.
Absalom sterf
9Dawid se manne het vir Absalom gekry. Absalom het op 'n muil gery. Toe die muil onder die takke van 'n groot boom hardloop, het Absalom se kop vasgehaak in die boom en hy het in die lug bly hang. Die muil waarop hy gery het, het verder gegaan. 10Iemand het dit gesien en hy het dit vir Joab gaan vertel. Hy het gesê: “Weet jy, ek het vir Absalom gesien, hy het aan 'n boom gehang.”
11Joab sê toe vir die man wat dit vir hom kom sê het: “Regtig? Het jy hom gesien? Hoekom het jy hom nie doodgemaak nie? Dan moes ek vir jou tien stukke silwer en 'n belt gegee het.”
12Die man het vir Joab gesê: “Ek sou nie die prins doodgemaak het nie, ook nie as jy vir my 1 000 stukke silwer gegee het nie. Ons het gehoor toe die koning vir jou en Abisai en Ittai gesê het: ‘Ek wil hê julle moet die jongman Absalom beskerm.’ 13Of as ek hom doodgemaak het, dan sal die koning dit hoor, hy vind altyd alles uit wat gebeur. En dan sal jy my nie beskerm nie.”
14Joab het gesê: “Ek wil nie hier by jou staan en wag nie.”
Hy het drie stokke geneem en hy het hulle deur Absalom se hart gesteek daar waar hy aan die boom gehang het en nog gelewe het. 15Tien jongmanne, wapendraers van Joab, het om Absalom kom staan en hulle het hom doodgeslaan. 16Toe het Joab die ramshoring geblaas, en die manne het opgehou om die manne van Israel te volg en te jaag, want Joab het sy manne laat terugkom. 17Hulle het Absalom se liggaam geneem en hulle het dit in 'n groot gat in die bos gegooi. Hulle het 'n baie groot hoop klippe op hom gepak. Al die manne van Israel het gevlug, elkeen na sy huis. 18Toe Absalom nog gelewe het, het hy vir homself die klip-paal ingeplant in die Koning-vallei sodat mense sy naam sal onthou. Hy het gesê hy doen dit omdat hy nie 'n seun het nie. Mense noem die klip-paal tot vandag toe die gedenksteen van Absalom.
Dawid kry die boodskap dat Absalom dood is
19Agimaäs seun van Sadok het gesê: “Ek sal hardloop en vir die koning die goeie nuus bring dat die Here hom gered het van sy vyande.”
20Maar Joab het gesê: “Nee, jy is nie vandag die regte man om goeie nuus te bring nie, jy kan op 'n ander dag goeie nuus bring, maar vandag kan jy nie goeie nuus bring nie, want die koning se seun is dood.” 21Joab het toe vir die Kussiet gesê: “Gaan vertel jý vir die koning wat jy gesien het.”
Die Kussiet het voor Joab gebuig en hy het gegaan. 22Agimaäs seun van Sadok het weer vir Joab gevra: “Dit maak nie saak wat gebeur nie, ek wil asseblief ook agter die Kussiet hardloop.”
Joab het geantwoord: “Seun, hoekom wil jy ook hardloop? Jy sal nie ook die boodskapper se beloning kry nie.”
23Maar Agimaäs het gesê: “Dit maak nie saak nie, ek wil hardloop.”
Joab sê toe: “Goed, jy mag hardloop.”
Agimaäs het op die pad langs die Jordaan-rivier gehardloop, en hy het by die Kussiet verbygegaan. 24Die koning het binne-in die poort tussen die voorste en die agterste deure gesit. Die wag het op die dak van die poort geklim, en toe hy kyk, sien hy daar kom 'n man wat alleen hardloop. 25Die wag het geskree en hy het dit vir die koning gesê, en die koning het gesê: “As hy alleen is, dan is dit goeie nuus.”
Agimaäs het aangehou hardloop en hy het nader gekom. 26En toe sien die wag nog 'n man wat nader hardloop. Die wag skree toe af na die poort en hy sê: “Daar kom nog 'n man wat hardloop, hy is ook alleen.”
Die koning het gesê: “Dit is ook goeie nuus.”
27Die wag sê toe: “Ek sien die voorste man hardloop soos Agimaäs seun van Sadok.”
En die koning sê: “Hy is 'n goeie man, hy bring goeie nuus.”
28Agimaäs het geskree en vir die koning gesê: “Dit het goed gegaan.”
Hy het vir die koning gebuig met sy gesig teen die grond en hy het gesê: “Ek prys jou God die Here. Hy het die mense laat verloor wat opstandig was teen Meneer die koning.”
29Toe die koning vra of dit goed gaan met die jongman, met Absalom, het Agimaäs gesê: “Toe Joab vir my gesê het ek moet kom, het ek gesien 'n groot klomp mense staan bymekaar, maar ek weet nie hoekom nie.”
30Die koning sê toe: “Kom staan hier,” en Agimaäs het dit gedoen.
31Toe kom die Kussiet en hy sê: “Ek bring vir Meneer die koning die goeie nuus dat die Here jou vandag gered het van almal wat opstandig was teen jou.”
32Toe die koning vir die Kussiet vra of dit goed gaan met die jongman, met Absalom, het die Kussiet gesê: “Ek hoop dat dieselfde wat met die jongman gebeur het, ook sal gebeur met die vyande van die koning en met almal wat opstandig was teen jou.”
Dawid huil en treur oor Absalom
33Die koning het begin bewe en hy het opgegaan na die kamer bo-op die poort. Hy het gehuil en hy het heen en weer geloop en gesê: “My seun Absalom, my seun, my seun Absalom. Ek wens ék was dood, nie jy nie. Absalom, my seun, my seun.”