Sprinkane
1Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die farao toe, want Ek het hom en sy amptenare hardkoppig gemaak sodat Ek hierdie tekens vir hulle kan wys. 2Dan kan julle vir julle kinders en julle kleinkinders vertel hoe Ek die Egiptenaars gestraf het en wat Ek aan hulle gedoen het. Julle sal weet Ek is die Here.”
3Moses en Aäron het na die farao toe gegaan en hulle het vir hom gesê die God van die Hebreërs sê vir hom: “Hoe lank nog gaan jy nie luister na My nie? Jy moet my volk laat gaan sodat hulle My kan dien. 4As jy hulle nie laat gaan nie, dan sal Ek môre sprinkane oor jou land bring. 5Die sprinkane sal die hele land toemaak, jy sal nie die grond kan sien nie. Die sprinkane sal alles opvreet wat oorgebly het nadat dit so baie gehael het. Hulle sal al die blare opvreet wat weer aan die bome gegroei het. 6Hulle sal oral in jou huise ingaan, ook in die huise van jou amptenare en in die huise van al die Egiptenaars. Julle het nog nooit so baie sprinkane gesien nie, nie julle of julle voorouers nie, vandat hulle hier begin woon het tot vandag toe.”
Moses het omgedraai en hy het weggegaan van die farao.
7Die farao se amptenare het vir hom gesê: “Hoe lank nog gaan jy toelaat dat hierdie man vir ons probleme gee? Jy moet die mans laat gaan sodat hulle die Here, hulle God, kan dien. Jy het gesien dit gaan baie sleg hier in Egipte.”
8Die amptenare het vir Moses en Aäron teruggebring na die farao toe, en hy het vir Moses en Aäron gesê: “Gaan dien julle God die Here. Maar sê vir my wie sal almal saamgaan.”
9Moses het gesê: “Ons jongmanne en ou manne gaan almal. Ons kinders en ons skape en bokke en beeste gaan ook, want ons moet 'n fees vir die Here gaan vier.”
10Die farao het vir hulle gesê: “Ek sal julle vroue en kinders nie saam met julle laat gaan nie. Pasop! Julle maak verkeerde planne. 11Nee, net die mans mag die Here gaan dien. Dit is wat julle gevra het.”
Toe het die farao vir Moses en Aäron weggejaag. 12Die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor Egipte sodat daar sprinkane oor die land kan kom. Hulle sal al die plante opvreet, alles wat oorgebly het nadat dit gehael het.”
13Moses het sy kierie oor Egipte uitgesteek. Daardie hele dag en die hele nag het die Here die oostewind laat waai. Dit het oggend geword, en die oostewind het die sprinkane gebring. 14Die sprinkane het oor die hele Egipte gekom en hulle het gaan sit oor die hele land. Daar was groot swerms sprinkane. Daar was nog nooit so baie sprinkane nie, nie voor daardie tyd nie en ook nie daarna nie. 15Daar was so baie sprinkane dat niemand die grond of die son kon sien nie. Die sprinkane het al die plante van die land opgevreet en ook al die vrugte wat oorgebly het nadat dit gehael het. Daar het in die hele Egipte nie 'n groen blaar oorgebly aan die bome en aan die plante in die veld nie. 16Die farao het haastig vir Moses en Aäron geroep en gesê: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God die Here en teen julle. 17Vergewe asseblief my fout nog een maal en bid tot julle God die Here. Vra dat Hy hierdie sprinkane wat al die plante doodmaak, moet wegvat.”
18Moses het weggegaan van die farao en hy het tot die Here gebid. 19Die Here het die wind verander en 'n baie sterk westewind het begin waai. Die wind het die sprinkane in die Riet-see ingewaai. Daar het nie een sprinkaan oorgebly in die hele Egipte nie. 20Maar die Here het die farao hardkoppig gemaak. Die farao het nie die Israeliete laat gaan nie.
Dit word donker in Egipte
21Die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand op in die lug. Dan sal dit donker word in Egipte, pikdonker, sodat jy moet voel waar jy loop.”
22Moses het sy hand opgesteek in die lug, en toe word dit baie donker in die hele Egipte, drie dae lank. 23Die Egiptenaars kon mekaar nie sien nie, en drie dae lank moes almal bly waar hulle is. Maar daar was lig in al die Israeliete se woonplekke. 24Die farao het vir Moses geroep en gesê: “Julle mag die Here gaan dien. Julle vroue en kinders mag saam met julle gaan. Maar julle skape en bokke en julle beeste moet hier bly.”
25Moses het gesê: “Jy moet self vir ons offers en brand-offers gee om vir ons God die Here te offer. 26En ons diere moet ook saam met ons gaan. Daar mag nie een dier hier bly nie. Ons weet nog nie watter diere ons vir die Here moet offer nie. Ons sal dit weet nadat ons daar aangekom het.”
27Die Here het die farao hardkoppig gemaak. Hy wou nie die Israeliete laat gaan nie. 28Die farao het vir Moses gesê: “Gaan weg van my. Ek wil jou nooit weer sien nie, want as ek jou weer sien, dan sal ek jou doodmaak.”
29Moses het gesê: “Dit is reg wat jy gesê het, jy sal my nooit weer sien nie.”