Die Here praat weer met Moses
1Die Here het vir Moses gesê: “Kap twee plat klippe soos die twee klippe wat jy stukkend gegooi het. Dan sal Ek op hierdie klippe dieselfde woorde skryf wat Ek op die eerste twee klippe geskryf het. 2Jy moet môre-oggend gereed wees. Gaan dan teen Sinai-berg op en gaan wag daar bo-op die berg vir My. 3Maar niemand mag saam met jou opklim nie. Daar mag niemand op die berg wees nie. Die bokke en skape en beeste mag ook nie naby hierdie berg wei nie.”
4Moses het toe twee plat klippe gekap wat soos die eerste twee klippe gelyk het. Hy het vroeg die oggend opgestaan en teen Sinai-berg opgegaan soos die Here vir hom gesê het. Hy het die twee plat klippe saam met hom geneem.
5Die Here het toe in 'n wolk afgekom na die berg. Hy het by Moses gaan staan en Hy het sy Naam “die Here” hard gesê. 6Die Here het voor Moses verbygegaan en Hy het hard gesê: “Ek is die Here! Ek is 'n God wat goed is vir mense wat swaarkry en Ek is genadig. Ek is baie geduldig en vol liefde. Ek doen wat Ek belowe het. 7Ná 1 000 geslagte sal Ek nog altyd lief wees vir mense. Ek vergewe mense wanneer hulle verkeerd doen en opstandig is en sonde doen. Maar as Ek wil, dan sal Ek iemand straf wat skuldig is. As die pa verkeerd gedoen het, dan straf Ek ook sy kinders en kleinkinders en hulle kinders.”
8Moses het vinnig op die grond gekniel en hy het voor die Here gebuig. 9Hy het gesê: “Here, as U tevrede is met my, dan moet U asseblief saam met ons gaan. Hierdie volk is hardkoppig. Ons het verkeerd gedoen, ons het sonde gedoen. Vergewe ons asseblief. Laat ons weer u eie volk wees.”
Die Here maak 'n verbond en sê wat die volk moet doen
10Die Here het gesê: “Ek maak nou 'n verbond met julle. Al die Israeliete sal sien dat Ek wonderwerke doen. Niemand het al hierdie wonderwerke gedoen op die hele aarde nie, nie by een van die volke nie. Al die volke rondom julle sal sien wat Ek doen. Hulle sal bang word vir My en hulle sal My respekteer wanneer hulle sien wat Ek vir julle doen. 11Julle moet doen wat Ek vandag vir julle sê. Ek gaan nou die Amoriete en die Kanaäniete en die Hetiete en die Feresiete en die Hewiete en die Jebusiete voor julle wegjaag. 12Julle moenie 'n ooreenkoms maak met die mense van die land waarnatoe julle gaan nie. Dit sal vir julle baie groot probleme gee. 13Nee, julle moet hulle altare afbreek en julle moet hulle klip-pale stukkend breek en hulle gewyde pale afkap. 14Julle mag nie voor 'n ander god buig nie, julle moet net vir My dien. Daarom noem hulle My ‘die God wat wil hê die mense moet net vir Hom dien.’ 15Julle mag nie 'n ooreenkoms maak met die mense wat in die land woon nie, want wanneer hulle die ander gode dien en vir hulle gode offer, dan sal hulle miskien vir julle ook uitnooi, en dan sal julle saam met hulle van daardie offers eet. 16Julle sal party van hulle dogters neem sodat julle seuns met hulle kan trou. Hulle dogters sal ander gode dien en hulle sal julle seuns verlei sodat hulle ook ander gode dien. 17Julle mag nie vir julle beelde van gode maak nie.”
Die Fees van die Ongesuurde Brood
18“Julle moet die Fees van die Ongesuurde Brood vier. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet soos Ek vir julle gesê het. Julle moet altyd hierdie fees vier op dieselfde dag van die maand Abib, want in die maand Abib het julle weggegaan uit Egipte.”
Die oudste seun behoort aan die Here
19“Elke oudste seun wat gebore word, behoort aan My, en ook die oudste bul-kalwers en ram-lammers. 20Maar 'n donkie se eerste hings-vul moet julle loskoop. Julle moet 'n lam gee in die plek van die donkie. As julle nie die donkie-vul loskoop nie, dan moet julle sy nek breek. Julle moet al julle oudste seuns loskoop.”
Offers en feeste
“Julle moet altyd 'n offer saambring wanneer julle na die tempel kom.
21“Julle moet ses dae lank werk, maar op die sewende dag moet julle rus. Julle moet op hierdie dag rus, ook wanneer dit tyd is om te ploeg of te oes.
22“Julle moet die Fees van die Weke vier. Julle moet 'n fees vier wanneer julle die ryp koring begin afsny, en julle moet 'n fees vier aan die einde van die jaar, wanneer julle klaar gewerk het en alles op die lande afgesny het. 23Al die mans moet elke jaar drie maal na My toe kom om My te aanbid. Ek is die Here, die God van die Israeliete.
24“Ek sal die ander volke voor julle wegjaag en Ek sal vir julle baie grond gee waar julle kan woon. Niemand sal probeer om julle grond te vat wanneer julle elke jaar drie maal gaan om julle God die Here te aanbid nie.
25“Wanneer julle 'n dier slag om vir My te offer, dan moet julle nie die bloed bring by iets wat suurdeeg in het nie. Julle moet die Paasfees-offer op-eet. Moenie dit los tot die volgende oggend nie.
26“Julle moet die beste van die eerste vrugte wat julle afpluk, bring na die huis van julle God die Here.
“Julle mag nie 'n bok-lam in sy ma se melk kook nie.”
27Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet hierdie woorde neerskryf, want Ek het dit vir jou gesê toe Ek 'n verbond gemaak het met jou en met die Israeliete.”
Moses se gesig blink
28Moses was 40 dae en 40 nagte by die Here op die berg. Hy het nie geëet of gedrink nie. Die Here het op die plat klippe die woorde van die verbond geskryf. Dit was die tien gebooie. 29Moses het afgekom van Sinai-berg. Hy het die twee plat klippe in sy hande gedra. Die tien gebooie was op die klippe. Moses se gesig het geblink omdat God met hom gepraat het, maar Moses het dit nie geweet nie. 30Aäron en al die Israeliete het gesien dat Moses se gesig blink, en hulle was bang om naby hom te kom. 31Maar Moses het hulle geroep, en Aäron en al die leiers van die volk het na hom toe gekom. Moses het met hulle gepraat. 32Daarna het al die ander Israeliete ook nader gekom, en Moses het vir hulle alles gesê wat die Here met hom op Sinai-berg gepraat het. 33Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy sy gesig toegemaak met 'n sluier. 34Maar elke maal wanneer Moses na die tent gegaan het om met die Here te praat, dan het hy die sluier afgehaal, totdat hy weer uitgekom het. Dan het hy vir die Israeliete vertel wat die Here vir hom gesê het. 35Die Israeliete het dan gesien dat Moses se gesig blink, en Moses het sy gesig met die sluier toegemaak totdat hy weer met die Here gaan praat.