1Nadat Jakob gesterf het, het Josef oor hom gehuil. Hy het oor sy pa se lyk gebuk en hom gesoen.
2Josef het vir die dokters gesê hulle moet sy pa se lyk balsem. Die dokters het Jakob se lyk gebalsem. 3Hulle het 40 dae gewerk om iemand te balsem. Ná die 40 dae het die hele Egipte 70 dae lank oor Jakob gerou.
4Toe die routyd verby was, het Josef vir die mense in die farao se paleis gesê: “Help my asseblief. Gaan praat met die farao en sê vir hom 5ek het vir my pa belowe dat wanneer hy dood is, dan sal ek hom gaan begrawe in sy graf wat hy in Kanaän gereedgemaak het. Ek wil nou asseblief my pa gaan begrawe. Daarna sal ek terugkom.”
6Die farao het vir Josef gesê: “Gaan begrawe jou pa soos jy vir hom belowe het.”
7Josef het na Kanaän gegaan om sy pa te begrawe. Al die amptenare van die farao het saam met hom gegaan, die raadgewers in sy paleis en die leiers van Egipte. 8Josef se hele familie en sy broers en sy pa se familie het ook saamgegaan. Net die kinders en die skape en bokke en beeste het in Gosen agtergebly. 9Daar het ook baie oorlogkarre en soldate op perde saamgegaan.
10Naby die Jordaan-rivier het hulle by die dorsvloer van Atad gekom. Hulle het daar sewe dae lank oor hulle pa gehuil en getreur.
11Toe die mense van Kanaän sien hoe Josef-hulle treur, het hulle gesê die Egiptenaars treur en rou baie. Daarom het hulle die plek Abel-Misrajim genoem. Die plek was oos van die Jordaan-rivier.
12Jakob se seuns het gedoen wat hy vir hulle gevra het, hulle het hulle pa begrawe. 13Sy seuns het sy lyk na Kanaän geneem en hulle het hom begrawe in die grot op die Makpela-grond. Dit is die grond wat Abraham van Efron die Hetiet gekoop het sodat hy 'n graf kon hê. Dit was naby Mamre.
14Nadat Josef sy pa begrawe het, het hy teruggegaan na Egipte, hy en sy broers en almal wat saam met hom gegaan het om sy pa te begrawe.
Die broers is bang vir Josef
15Nadat Jakob gesterf het, het Josef se broers bekommerd geword en hulle het vir mekaar gesê: “Nou sal Josef dink aan die slegte dinge wat ons aan hom gedoen het, en hy sal ons terugbetaal. Hy sal ook aan óns slegte dinge doen. Hy sal ons vyand word.”
16Hulle stuur toe 'n boodskap vir Josef en sê vir hom: “Pa het voor sy dood gesê 17ons moet jou vra om ons te vergewe. Ons het 'n baie verkeerde ding gedoen teen jou. Ons het groot sonde gedoen. Daarom, Josef, vergewe asseblief die verkeerde ding wat ons gedoen het. Ons is ook dienaars van jou pa se God.”
Josef het gehuil toe hulle dit vir hom sê. 18Sy broers kom toe self en buig voor Josef en hulle sê: “Hier is ons. Ons is jou slawe.”
19Maar Josef het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, ek is nie God nie. 20Julle het slegte planne gemaak teen my, maar God het dit verander en Hy het dit 'n goeie plan gemaak. Hy het julle plan gebruik om baie mense se lewens te red, tot vandag toe. 21Julle moenie nou bang wees nie. Ek sal vir julle en julle kinders sorg.”
Josef was baie vriendelik met sy broers en hy het mooi met hulle gepraat. Toe was hulle nie meer bang nie.
Josef sterf
22Josef het in Egipte gebly, hy en sy pa se familie. Hy het 110 jaar oud geword. 23Josef het lank gelewe en hy het Efraim se kinders en kleinkinders gesien. Hy het ook die kinders van Makir, Manasse se seun, aangeneem. Hulle was soos sy eie kinders. 24Later het Josef vir sy broers gesê: “Ek sal nou sterf, maar God sal aan julle dink, Hy sal julle uit hierdie land laat wegtrek na die land wat Hy vir Abraham, Isak en Jakob belowe het.”
25Josef het gesê sy familie moet belowe dat hulle sy liggaam sal saamneem wanneer hulle uit Egipte terugtrek na Kanaän.
26Josef het 110 jaar oud geword en toe het hy gesterf. Hulle het sy lyk gebalsem en hulle het dit daar in Egipte in 'n kis gesit.