Job sê dat God weet hoe Job gelewe het
1Job het gesê:
“Ek het vir myself gesê ek mag nooit
na 'n jongmeisie kyk en haar begeer nie.
2Maar wat het God aan my gedoen?
Sal die Almagtige in die hoë hemel
iets vir my doen?
3Dit moet sleg gaan met mense
wat verkeerd doen.
Mense wat slegte dinge doen,
moet swaarkry.
4God weet hoe ek gelewe het,
Hy weet alles wat ek gedoen het.
5Ek was nie vals en skynheilig nie.
6Wanneer God my toets, dan sal Hy weet
dat ek heeltemal reg gelewe het.
7Ek het nie weggedraai van die regte pad nie,
ek het nie iets gevat wat ek graag wou hê nie,
my hande is skoon.
8As my hande nie skoon is nie,
dan moet ander mense
die koring eet wat ek gesaai het,
hulle moet die plante uittrek wat ek
geplant het.
9Ek het nie iemand anders se vrou begeer
en gewag om skelm by haar te gaan slaap nie.
10As ek dit gedoen het, dan moet my vrou
vir 'n ander man kos gaarmaak
en dan moet hý seks hê met haar,
11want dan het ek iets gedoen
wat baie verkeerd is,
en dan moet die Regter my straf.
12Dit sal vir my wees
soos 'n vuur wat brand
tot in die onderwêreld,
'n vuur wat alles verbrand wat ek het.
13Ek het altyd reg gedoen
aan 'n slaaf of slavin
wanneer een van hulle my beskuldig het.
14As ek nie reg gedoen het aan hulle nie,
wat sal ek doen wanneer God my oordeel?
Wat sal ek kan antwoord wanneer Hy vra
wat ek gedoen het?
Niks.
15Hy het my gemaak
en Hy het ook my slawe gemaak.
Dieselfde God het ons gemaak.
16Wanneer arm mense iets wou hê,
dan het ek nie nee gesê nie,
en ek het nie 'n weduwee honger laat bly nie.
17Ek het nie my kos alleen geëet nie,
ek het vir weeskinders ook van my kos gegee.
18Ja, ek was altyd soos 'n pa vir weeskinders
en ek het weduwees altyd gehelp.
19Wanneer ek gesien het dat 'n arm mens
nie klere het nie en dat hy koud moet slaap,
20dan het ek vir hom klere gegee
van my eie skape se wol,
en hy het vir my dankie gesê.
21Ek het nie my vuis vir 'n weeskind
gewys nie,
ook nie wanneer ek gesien het dat
die ander mense in die poort
sal sê dat dit reg is nie.
22As ek dit gedoen het,
dan moet iemand
my arms breek en uit my skouers ruk.
23Ja, ek was bang dat God my sal straf,
ek sou nie voor Hom, die Koning, kon staan nie.
24Ek het nie gedink dat goud my sal beskerm
sodat dit goed sal gaan met my nie.
25Ek was nie hoogmoedig omdat ek ryk was
en baie goed bymekaargemaak het nie.
26Ek het nie na die son gekyk wat so helder skyn
of na die maan wat so blink,
27en ek het my nie dan laat verlei nie.
Ek het nie vir hulle soene gegooi met my hand
en hulle gedien wanneer niemand kyk nie.
28As ek dit gedoen het,
dan het ek sonde gedoen,
en dan moet God my straf,
want dan was ek vals teen Hom.
29Ek was nie bly wanneer
dit skielik sleg begin gaan het
met mense wat my haat nie,
ek het nie gejuig wanneer hulle
begin swaarkry nie.
30Ek het nie die sonde gedoen
om daardie mense te vervloek nie.
31Die mense wat in my huis gekom het,
het nooit honger weggegaan nie,
32ek het nie vreemdelinge buite laat slaap nie,
ek het my deur oopgemaak vir mense
wat by my huis verbygekom het.
33Ander mense probeer wegsteek
wanneer hulle verkeerd gedoen het,
ek het dit nie gedoen nie.
34Ek was nie bang vir wat mense sal sê nie,
ek het nie geskrik omdat ander families
miskien kon dink dat ek nie belangrik is nie.
Ek het nie stilgebly en in die huis gebly nie.
35Ek wens dat iemand na my wou luister!
Ek teken my naam,
ek sê dat ek die waarheid gepraat het.
Die Almagtige moet my nou antwoord.
Die persoon wat my wil beskuldig,
moet skryf wat ek gedoen het.
36Ek sal die dinge wat hy skryf,
vir almal wys, ek sal dit op my skouers dra
en op my kop.
37Ek sal elke ding sê wat ek gedoen het,
ek sal voor die persoon staan soos 'n leier
wat vir niks bang is nie.
38Ek het in grond gewerk,
ek het dit geploeg,
maar ek het betaal
vir die koring-oes wat ek afgesny het.
39Dit is ander mense se grond,
maar hulle het genoeg gekry om te eet,
hulle het nie baie swaar gekry nie.
40As ek verkeerd gedoen het aan hulle,
dan moes daar dorings en onkruid gegroei het
en nie koring en gars nie.”
Job het toe klaar gesê wat hy wou sê.