Ons einde het gekom
1Hoekom het dit gebeur?
Die goud blink nie meer nie,
dit het dof geword.
Die goeie goud het verander.
Mense het die gewyde edelstene
op die hoeke van die strate weggegooi.
2Die goeie mense van Sion
was soos goud, hulle was baie spesiaal,
maar nou beteken hulle so min
soos die kleipotte
wat die pottebakker met sy hande maak.
3Jakkalse laat hulle kleintjies drink,
maar my volk is so wreed
soos volstruise in die woestyn.
4Die babatjies is baie dors,
hulle tonge sit vas bo in hulle monde.
Hulle vra kos, maar daar is niemand
wat vir hulle iets gee nie.
5Mense wat lekker kos geëet het,
sterf nou eensaam op die strate.
Mense wat koningsklere gedra het,
sit nou op die ashope.
6My volk het meer sonde gedoen
as die mense van die stad Sodom.
Die Here het Sodom baie vinnig verwoes,
en niemand het sy hand uitgesteek
om hulle te help nie.
7Die leiers in Jerusalem
was skoner as sneeu, witter as melk,
hulle liggame was rooier as koraal,
hulle was so mooi soos saffier.
8Maar nou is hulle swarter as roet,
niemand ken hulle wanneer hulle
op die strate loop nie.
Hulle is baie maer,
hulle is so droog soos hout.
9Dit het beter gegaan met mense
wat gesterf het in die oorlog,
beter as met die mense wat sterf van honger.
Die mense het stadig gesterf
omdat hulle niks koring afgesny het
om te eet nie.
10Vroue wat voorheen jammer was
vir hulle kinders,
het nou hulle kinders gekook en geëet.
Kinders het kos geword toe die vyande
my volk oorwin het.
11Die Here was kwaad,
Hy het nie opgehou om hulle te straf nie.
Hy het 'n vuur aangesteek in Jerusalem,
en die hele stad het verbrand.
12Die konings van die aarde,
al die mense in die wêreld,
het gedink dat vyande nooit
deur die poorte van Jerusalem
sou kon kom nie.
13Maar dit het gebeur.
Hoekom?
Dit het gebeur oor die sonde
van die profete,
oor die verkeerde dinge wat
die priesters gedoen het.
Hulle het onskuldige mense
laat sterf in die stad.
14Mense het soos blindes
rondgeloop op die strate.
Hulle was vol bloed,
niemand wou aan hulle klere raak nie.
15Ander mense het vir hulle geskree:
“Gaan weg, julle is onrein!
Gaan weg! Gaan weg!
Julle moenie aan ons raak nie!”
Hulle het toe weggegaan
en hulle wou tussen ander volke
gaan woon,
maar daardie volke het gesê:
“Julle mag nie vreemdelinge
hier by ons wees nie.”
16Dit was die Here self wat hulle
na al die kante toe gejaag het.
Hy wou hulle nie meer sien nie.
Hy wou nie met die priesters praat nie,
Hy wou nie jammer wees vir die leiers nie.
17Ons het aangehou kyk of iemand
ons sal kom help,
maar niemand het gekom nie.
Ons het gewag en gewag,
maar nie een volk het ons kom help nie.
18Die vyande het ons spore gevolg soos jagters,
ons kon nie kom op die oop stukke grond
in die stad nie.
Ons dood was naby,
ons lewe was verby,
ja, ons einde het gekom.
19Ons vyande was vinniger
as die arende in die lug.
Hulle het ons gejaag op die berge,
hulle het vir ons gewag in die woestyn.
20Die gesalfde van die Here,
die man wat vir ons so belangrik was
soos die asem in ons neus,
het 'n gevangene geword
in die tronk van die vyande.
Ons het voorheen van daardie man gesê:
“Hy sal ons beskerm wanneer ons
tussen die heidene moet woon.”
21Mense van Edom, julle moet dit geniet.
Julle wat in die land Us woon,
julle moet wys julle is bly,
maar die beker van swaarkry
sal na julle toe ook kom.
Julle sal dronk word en julle sal julle kaal uittrek.
22Mense van Sion,
die Here het julle klaar gestraf,
dit is nou verby,
die Here sal julle nie gevangenes
laat bly nie.
Maar, mense van Edom,
vir júlle sal die Here nóú straf,
Hy sal julle sondes vir almal wys.