Lukas 15
Die gelykenis van die skaap wat weggeraak het
1Al die tollenaars en sondaars het na Jesus toe gekom om na Hom te luister. 2Maar die Fariseërs en skrifgeleerdes het begin kla en hulle het gesê: “Hierdie man kuier by sondaars en hy eet saam met hulle.”
3Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: 4“As daar 'n man by julle is wat 100 skape het, en een van die skape raak weg, wat doen die man? Hy los die 99 skape in die veld en hy gaan soek die skaap wat weggeraak het totdat hy dit kry. 5En as die man die skaap kry, dan is hy baie bly en hy tel dit op sy skouers. 6Wanneer hy by die huis kom, dan roep hy sy vriende en bure en sê vir hulle: ‘Julle moet saam met my bly wees, want ek het my skaap gekry wat weg was.’ 7Ek sê vir julle, so sal almal in die hemel bly wees wanneer een sondaar verander en doen wat die Here wil hê. Hulle sal blyer wees oor hierdie één sondaar as oor 99 mense wat dink hulle lewe reg en dink dit is nie nodig om te verander nie.”
Die gelykenis van die geldstuk wat weggeraak het
8“En as daar 'n vrou is wat tien geldstukke het en sy verloor een, wat doen sy? Sy maak lig met 'n lamp, sy vee die huis uit en soek oral totdat sy dit kry. 9As sy die geldstuk kry, roep sy haar vriendinne en bure bymekaar en sê: ‘Julle moet saam met my bly wees, want ek het die geldstuk gekry wat ek verloor het.’ 10Ek sê vir julle, so sal die engele van God bly wees oor een sondaar wat verander en doen wat God wil hê.”
Die gelykenis van die seun wat weggegaan en teruggekom het
11Jesus het ook gesê: “'n Man het twee seuns gehad. 12Die jongste seun het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee vir my die goed wat ek van Pa moet erf.’ Die pa het toe vir elke seun gegee wat hy moet kry. 13Kort daarna het die jongste seun al sy goed verkoop en hy het van die huis weggegaan na 'n ver land. Daar het hy wild gelewe en hy het sy geld uitgemors. 14Toe hy al sy geld uitgemors het, het daar 'n groot hongersnood in daardie land gekom. Die seun het begin swaarkry. 15Toe gaan werk hy by een van die mense van daardie land. Die man het hom gestuur om sy varke in die veld te laat wei. 16Die seun het gewens hy kan saam met die varke eet van die peule sodat hy nie meer honger is nie, maar niemand het dit vir hom gegee nie. 17Hy het toe ernstig begin dink oor sy lewe en hy het vir homself gesê: ‘My pa het baie mense wat vir hom werk, en hulle het almal genoeg kos. Maar ek? Hier sit ek en ek gaan amper dood van die honger. 18Ek sal opstaan en na my pa toe gaan en ek sal vir hom sê: Pa, ek het sonde gedoen teen God en teen jou. 19Ek is nie meer goed genoeg om jou seun te wees nie. Kan ek een van die mense wees wat vir jou werk?’ 20Hy het toe opgestaan en hy het na sy pa toe gegaan. Toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien en sy pa was baie jammer vir hom. Hy het na sy seun toe gehardloop en hy het sy arms om sy seun se nek gesit en hom gesoen. 21Toe sê die seun vir sy pa: ‘Pa, ek het sonde gedoen teen God en teen jou. Ek is nie meer goed genoeg om jou seun te wees nie.’ 22Maar sy pa het vir die slawe gesê: ‘Bring gou die beste klere en trek dit vir hom aan. Sit 'n ring aan sy vinger en trek vir hom sandale aan. 23Bring die kalf wat ek vetgemaak het en slag dit, sodat ons kan eet en vrolik wees. 24Want hierdie seun van my was dood en hy lewe weer, hy was weg en ons het hom weer gekry.’ Hulle het toe begin om vrolik fees te vier. 25Die oudste seun was in die veld. Toe hy later naby die huis kom, hoor hy die mense maak musiek en hulle dans. 26Hy roep toe een van die slawe en vra vir hom wat by die huis gebeur. 27Die slaaf het gesê: ‘Jou broer is hier, en jou pa is bly hy het jou broer gesond teruggekry. Daarom het hy die kalf geslag wat hy vetgemaak het.’ 28Toe word die oudste seun baie kwaad en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa het uitgekom en hy het vir die seun gesoebat om in te gaan. 29Hy het vir sy pa gesê: ‘Luister, Pa, ek werk al so baie jare vir jou en ek was nog altyd gehoorsaam, maar jy het nooit vir my 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. 30Maar hierdie seun van jou het al jou goed by prostitute uitgemors, en toe hy hier aankom, toe slag jy vir hóm die kalf wat jy vetgemaak het!’ 31Die pa sê toe vir die oudste seun: ‘My kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is joune. 32Ons móét vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en hy lewe weer, hy was weg en ons het hom weer gekry.’ ”
ltpgt© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.lt/pgt