1In daardie tyd het Johannes die Doper na die woestyn van Judea gekom en daar gepreek. 2Hy het gesê: “Julle moet verander en lewe soos God wil hê, want God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet.”
3Die profeet Jesaja het van Johannes gepraat toe hy gesê het:
“Iemand skree in die woestyn
en hy sê:
Julle moet die pad gereedmaak
vir die Here,
julle moet sy paaie reguit maak.”
4Johannes se klere was van kameelhare gemaak en hy het 'n belt van leer om sy heupe gedra. Hy het sprinkane geëet en heuning wat hy in die woestyn gekry het.5Toe het die mense van Jerusalem en die hele provinsie Judea en van plekke naby die Jordaan-rivier na hom toe gegaan. 6Hulle het gesê hulle is jammer oor hulle sondes, en Johannes het hulle in die Jordaan-rivier gedoop.
7Johannes het gesien baie van die Fariseërs en Sadduseërs kom sodat hy hulle moet doop. Hy sê toe vir hulle: “Julle is so skelm soos slange! Julle sal nie kan wegvlug wanneer God se straf kom nie. 8Nee, julle moet wys julle het verander en dat julle nou lewe soos God wil hê. Julle moet wys julle is soos bome wat goeie vrugte dra. 9Julle sê vir mekaar: ‘Ons is kinders van Abraham,’ en julle dink dáárom sal God julle nie straf nie. Maar Ek sê vir julle: God kan van hierdie klippe kinders vir Abraham maak. 10God het al klaar begin om te oordeel. Dit is soos wanneer iemand met 'n byl elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi. 11Ek doop julle met water om te wys julle wil lewe soos God wil hê. Maar later sal daar Iemand kom wat meer kan doen as ek. Ek is nie belangrik genoeg om sy sandale vir Hom te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. 12Hy sal die mense oordeel. Dit sal wees soos wanneer iemand 'n vurk neem en die koring en die kaf op sy dorsvloer van mekaar skei. Hy maak die koring bymekaar en bêre dit in sy stoorkamer, en hy verbrand die kaf. Die oordeel van God sal wees soos 'n vuur wat nie ophou brand nie.”
13Jesus het van die provinsie Galilea gekom en Hy het na die Jordaan-rivier gegaan. Hy het na Johannes toe gegaan en gesê Johannes moet Hom doop. 14Johannes wou dit nie doen nie. Hy het gesê: “Dit is nie reg dat ek vir Ú doop nie, U moet vir mý doop. Hoekom kom U na my toe?”
15Maar Jesus sê vir hom: “Doen wat Ek vra en doop My. Ons moet dit doen. Ons moet alles doen wat God wil hê ons moet doen.”
Toe het Johannes gedoen wat Jesus gevra het, hy het Hom gedoop. 16Nadat Johannes vir Jesus gedoop het, het Jesus dadelik opgestaan uit die water. Toe gaan die hemel oop, en Jesus sien die Gees van God kom af na Hom toe soos 'n duif uit die lug afkom. 17Jesus het ook gehoor Iemand sê uit die hemel: “Dit is my Seun. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly.”