Die Ruben-stam en die Gad-stam wil grond hê oos van die Jordaan-rivier
1Die Ruben-stam en die Gad-stam het baie diere gehad, dit was groot troppe diere. Hulle het gesien dat die land Jaser en die land Gilead goeie weiveld vir diere het. 2Toe het hulle na Moses en die priester Eleasar en die leiers van die volk toe gegaan en gesê: 3-4“Die Here het die volk Israel gehelp om die land te oorwin waar die stede Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sebam, Nebo en Beon is. Dit is 'n land vir diere, en ons het baie diere. 5As julle goed wil wees vir ons, dan moet julle hierdie land vir ons gee, dit moet ons grond wees. Julle moenie vir ons sê dat ons oorkant die Jordaan-rivier moet gaan woon nie.”
6Maar Moses het vir die Gad-stam en die Ruben-stam gesê: “Moet die ander stamme gaan oorlog maak terwyl julle hier bly? 7As julle hier bly, dan sal julle die ander Israeliete bang laat word om na die land te gaan wat die Here vir hulle gegee het. 8Julle doen nou dieselfde wat julle voorvaders gedoen het toe ek hulle uit Kades Barnea gestuur het om te gaan kyk hoe die land lyk. 9Hulle het gegaan tot by die Druiwe-vallei en hulle het gekyk hoe die land lyk, maar hulle het die Israeliete bang laat word om na die land te gaan wat die Here vir hulle gegee het. 10Die Here het daardie dag kwaad geword. Hy het gesê: 11‘So seker soos Ek lewe, die manne wat 20 jaar oud of ouer is en wat uit Egipte gekom het, sal nie die land sien wat Ek belowe het om vir Abraham, Isak en Jakob te gee nie, want hulle het opgehou om in My te glo. 12Kaleb seun van Jefunne, die Kenissiet, en Josua seun van Nun sal in die land ingaan, want hulle het aangehou om in My te glo.’ 13Die Here het kwaad geword vir die Israeliete, Hy het hulle 40 jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat die hele geslag gesterf het, die Here het nie van daardie geslag gehou nie. 14Nou kom julle hier, julle is 'n klomp sondaars soos julle voorvaders, en julle maak die Here nog meer kwaad vir die Israeliete. 15As julle nie doen wat die Here wil hê nie, dan sal Hy die volk weer in die woestyn los. Dan sal julle hierdie hele volk laat sterf.”
16Toe kom die mense van die Ruben-stam en die Gad-stam nader na Moses toe en hulle sê: “Ons wil hier vir ons skape en bokke krale bou, en ons wil stede bou vir ons kinders en oumense, 17maar ons manne sal gereed wees om oorlog te maak, en ons sal voor die Israeliete gaan totdat ons hulle by hulle plek gebring het. Maar ons kinders en oumense moet in stede woon wat sterk mure het om hulle te beskerm teen die mense wat in die land woon. 18Ons sal eers help dat elke Israeliet sy grond gekry het, dan sal ons terugkom na ons huise. 19Ons wil nie saam met die Israeliete grond kry anderkant die Jordaan-rivier en verder nie, want ons wil hierdie grond hê, langs hierdie kant van die Jordaan-rivier, oos van die rivier.”
20Moses het toe vir hulle gesê: “As dít is wat julle wil doen, dan moet julle gereedmaak om te gaan oorlog maak. Die Here sal dit sien. 21Die Here moet sien dat elkeen van julle wat wapens het, oor die Jordaan-rivier gaan. Julle moet saam oorlog maak totdat die Here sy vyande weggejaag het voor Hom. 22Nadat die Here vir julle en die ander Israeliete gehelp het om die land te oorwin, kan julle terugkom, want dan het julle gedoen wat julle vir die Here en vir die ander Israeliete moes doen. Hierdie land sal dan aan julle behoort, die Here gee dit vir julle. 23Maar as julle nie doen wat julle nou belowe nie, dan doen julle sonde teen die Here, en Hy sal dit weet. 24Julle mag stede bou vir julle kinders en oumense, en krale vir julle skape en bokke, maar julle moet doen wat julle belowe het.”
25Die mense van die Gad-stam en die Ruben-stam het vir Moses gesê: “Ons sal doen wat Meneer sê. 26Ons kinders en oumense, ons vroue, ons skape en bokke, al ons diere, sal hier in die stede van Gilead bly, 27maar ons self sal oorgaan, elkeen sal sy wapens vir die oorlog saamneem, soos Meneer sê. Die Here sal dit sien.”
28Moses het toe vir die priester Eleasar en vir Josua seun van Nun en vir die familiehoofde van die stamme van Israel gesê wat hulle moet doen met die Gad-stam en die Ruben-stam. 29Moses het gesê: “Die manne van die Gad-stam en die Ruben-stam moet saam met julle oor die Jordaan-rivier gaan. Elkeen moet sy wapens vir die oorlog saamneem. Die Here sal dit sien. As julle die land oorwin, dan moet julle die land Gilead vir die manne gee, dit moet hulle land wees. 30Maar as hulle nie hulle wapens neem en saam met julle oor die rivier gaan nie, dan moet hulle saam met julle grond kry in die land Kanaän.”
31Die mense van die Gad-stam en die Ruben-stam het geantwoord: “Ons sal doen wat die Here vir ons gesê het. 32Ons sal ons wapens neem en oorgaan na die land Kanaän saam met julle, die Here sal dit sien. Maar die grond wat ons sal kry, moet aan hierdie kant van die Jordaan-rivier wees.” 33Moses het toe die grond vir hulle gegee. Hy het vir die Gad-stam en die Ruben-stam en die helfte van die stam van Manasse seun van Josef die lande gegee van Sihon koning van die Amoriete en die lande van Og koning van Basan. Dit was die lande met die stede en die grond rondom die stede.
34Die Gad-stam het die stede Dibon, Atarot en Aroër gebou, 35en ook Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha, 36Bet-Nimra en Bet-Garan. Die stede het sterk mure gehad, en daar was krale vir die skape en bokke.
37Die Ruben-stam het die stede Gesbon, Elale en Kirjatajim gebou 38en ook Nebo, Baäl-Meon en Sibma. Hulle het nuwe name gegee vir die stede wat hulle gebou het.
39Die familie van Makir seun van Manasse het na Gilead gegaan en hulle het die land oorwin. Hulle het die Amoriete weggejaag wat daar gewoon het. 40Moses het die land Gilead vir Makir seun van Manasse gegee, en Makir het daar gaan woon. 41Jaïr seun van Manasse het 'n klomp dorpies oorwin en hy het hulle die Jaïr-dorpe genoem. 42Nobag het die stad Kenat oorwin en ook die dorpies daar naby. Hy het die stad Nobag genoem, dit was dieselfde soos sy eie naam.