1Juis toe kom daar, deur die woord van die Here, 'n man van God uit Juda in Bet-El aan, terwyl Jerobeam op die altaar staan om die offer te verbrand. 2Hy het, deur die woord van die Here, uitgeroep teen die altaar en gesê: “Altaar, altaar, so sê die Here, ‘Kyk, 'n seun word gebore vir die huis van Dawid; Josia is sy naam. Hy sal op jou die priesters van die offerhoogtes slag, hulle wat offers op jou verbrand, en die beendere van mense sal op jou verbrand word.’ ” 3Hy het op dieselfde dag 'n teken aangekondig: “Dit is die teken waarvan die Here gepraat het, ‘Kyk, die altaar sal uitmekaarskeur, sodat die vetterige as wat daarop is, gestort word.’ ”
4Toe die koning die woord van die man van God hoor wat hy uitgeroep het teen die altaar in Bet-El, steek Jerobeam sy hand bo van die altaar af uit en sê: “Gryp hom!” Maar sy hand wat hy na hom uitgesteek het, het verstyf en hy kon dit nie weer na hom terugtrek nie. 5Die altaar het uitmekaargeskeur en die vetterige as het van die altaar af gestort, ooreenkomstig die teken wat die man van God aangekondig het deur die woord van die Here. 6Die koning het daarop gereageer deur vir die man van God te sê: “Soek asseblief die guns van die Here jou God en bid vir my, sodat ek my hand kan terugtrek.” Die man van God het toe die guns van die Here gesoek, en die koning het sy hand teruggetrek, soos dit voorheen was.
7Die koning praat toe met die man van God: “Kom saam met my huis toe en versterk jouself. Ek wil vir jou 'n geskenk gee.” 8Maar die man van God sê vir die koning: “Al gee u my die helfte van u paleis, ek sal nie saam met u ingaan nie – ek mag nie brood eet of water drink op hierdie plek nie. 9Want so is ek deur die woord van die Here beveel, ‘Jy mag nie brood eet of water drink nie, en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.’ ”
10Hy het toe met 'n ander pad geloop; hy het nie teruggekeer met die pad waarmee hy na Bet-El gekom het nie.
Dood van 'n ongehoorsame profeet
11Daar was 'n ou profeet wat in Bet-El gewoon het. Sy seuns kom toe en vertel vir hom alles wat die man van God daardie dag in Bet-El gedoen het; wat hy vir die koning gesê het, ook dit het hulle vir hulle vader vertel. 12Toe vra hulle vader vir hulle: “Met watter pad het hy geloop?” Sy seuns wys toe vir hom die pad waarmee die man van God wat uit Juda gekom het, geloop het. 13Daarop sê hy vir sy seuns: “Saal vir my die donkie op.” Hulle saal toe vir hom die donkie op. Hy het opgeklim 14en agter die man van God aan gegaan. Toe hy by hom kom waar hy onder 'n terebintboom sit, vra hy vir hom: “Is jy die man van God wat van Juda af kom?” Hy het geantwoord: “Ek is.” 15Hy sê toe vir hom: “Gaan saam met my huis toe en eet iets.” 16Maar hy antwoord hom: “Ek kan nie saam met jou teruggaan of saam met jou na binne gaan nie. Ek mag nie saam met jou brood eet of water drink op hierdie plek nie, 17want die boodskap deur die woord van die Here aan my was, ‘Jy mag nie daar brood eet of water drink nie; jy mag nie teruggaan met die pad waarmee jy gegaan het nie.’ ” 18Maar die ou profeet sê vir hom: “Ook ek is 'n profeet, net soos jy. 'n Engel het met my deur die woord van die Here gepraat en gesê, ‘Bring hom saam met jou terug na jou huis, sodat hy brood kan eet en water kan drink.’ ” Hy het vir hom gelieg. 19Hy het toe saam met hom teruggegaan en in sy huis brood geëet en water gedrink.
20Terwyl hulle aan tafel sit, kom die woord van die Here tot die ou profeet wat hom laat omdraai het. 21Hy kondig toe vir die man van God wat uit Juda gekom het, aan: “So sê die Here, ‘Omdat jy in opstand gekom het teen die bevel van die Here en nie die opdrag wat die Here jou God jou gegee het, nagekom het nie, 22maar omgedraai het en brood geëet en water gedrink het op die plek waarvan Hy vir jou gesê het: “Moenie brood eet of water drink nie,” sal jou lyk nie in die graf van jou voorouers kom nie.’ ”
23Nadat hy brood geëet het en nadat hy gedrink het, het die ou profeet vir die profeet wat hy laat omdraai het, 'n donkie opgesaal, 24en hy het vertrek. Maar 'n leeu het op die pad op hom afgekom en hom doodgebyt. Sy lyk het in die pad bly lê, terwyl die donkie daar langsaan staan, en die leeu langs die lyk staan. 25Juis toe het daar mense verbygegaan; hulle het die lyk in die pad sien lê en die leeu wat langs die lyk staan. Hulle gaan toe en vertel dit in die dorp waar die ou profeet woon. 26Die profeet wat hom op die pad laat omdraai het, hoor dit toe en sê: “Dit is die man van God wat in opstand gekom het teen die bevel van die Here. Die Here het hom aan 'n leeu oorgegee en dié het hom verskeur en doodgemaak, ooreenkomstig die woord van die Here, soos Hy vir hom gesê het.”
27Daarop sê hy vir sy seuns: “Saal vir my die donkie op.” Hulle het opgesaal, 28en hy het gegaan en die lyk gekry wat in die pad lê, met die donkie en die leeu wat langs die lyk staan. Die leeu het nie die lyk geëet nie en nie die donkie verskeur nie. 29Die ou profeet tel toe die lyk van die man van God op, sit dit op die donkie en neem dit terug. Die ou profeet het sy dorp binnegegaan om te treur en om die lyk te begrawe. 30Hy het die lyk in sy eie graf neergelê. Hulle het oor hom getreur en gesê: “Helaas, my broer!” 31Nadat hy hom begrawe het, het hy vir sy seuns gesê: “Wanneer ek sterf, moet julle my begrawe in die graf waarin die man van God begrawe is. Langs sy beendere moet julle my liggaam neerlê. 32Want die boodskap wat hy deur die woord van die Here uitgeroep het teen die altaar wat in Bet-El is en teen al die tempels op die offerhoogtes wat in die stede van Samaria is, sal beslis bewaarheid word.”
33Selfs ná hierdie gebeure het Jerobeam nie teruggedraai van sy verkeerde pad af nie. Hy het weer uit alle dele van die volk priesters vir die offerhoogtes aangestel. Wie ook al wou, het hy as priester gewy, en dan het die persoon een van die priesters van die offerhoogtes geword. 34Hierdie saak het die koningshuis van Jerobeam tot sonde gelei, en dit het gelei tot hulle uitwissing en uitdelging van die aardbodem af.