Dawid se straf
1Die Here het Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom kom, het hy vir hom gesê: “Daar was twee mans in 'n sekere dorp. Die een was ryk en die ander was arm. 2Die ryk man het besonder baie kleinvee en beeste gehad, 3en die arm man het niks behalwe een klein ooilam gehad nie, wat hy gekoop het. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het by hom grootgeword saam met sy kinders. Sy het selfs van sy stukkie brood geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Sy was vir hom soos 'n dogter. 4Toe daar 'n besoeker by die ryk man opdaag, was hy te jammer om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom opgedaag het, iets voor te berei. Hy neem toe die ooilam van die arm man, en berei 'n ete voor vir die man wat by hom aangekom het.”
5Dawid het baie kwaad geword vir daardie man. Hy het vir Natan gesê: “So waar as die Here leef, die man wat dit gedoen het, verdien die dood. 6Die ooilam moet hy viervoudig vergoed, omdat hy hierdie daad gedoen het en nie die arm man jammer gekry het nie.”
7Toe sê Natan vir Dawid: “Jy is die man! So sê die Here, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat jou as koning gesalf het oor Israel, en Ek is die Een wat jou gered het uit die hand van Saul. 8Ek het vir jou die huis van jou heer gegee, en die vroue van jou heer in jou arms. Ek het vir jou die huis van Israel en Juda gegee. As dit te min was, sou Ek vir jou soveel meer kon byvoeg. 9Waarom het jy die woord van die Here geminag deur kwaad te doen in my oë? Urija, die Hetiet, het jy met die swaard neergevel. Sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, en hom het jy deur die swaard van die Ammoniete vermoor. 10Daarom sal die swaard nooit van jou huis wyk nie, omdat jy My geminag het en die vrou van Urija, die Hetiet, geneem het om jou vrou te word.’
11“So sê die Here, ‘Kyk, Ek gaan onheil teen jou verwek uit jou eie huis. Ek sal jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee. Hy sal openlik by jou vroue slaap. 12Omdat jy dit in die geheim gedoen het, sal Ek hierdie gebeure voor die hele Israel laat plaasvind en voor die volle son.’ ”
13“Ek het gesondig teen die Here,” het Dawid vir Natan gesê, waarop Natan toe vir Dawid sê: “Die Here self het jou sonde opsy geskuif. Jy sal nie sterf nie; 14maar omdat jy deur hierdie gebeure heeltemal oneerbiedig opgetree het teenoor die Here, sal die kind wat vir jou gebore is, sonder twyfel sterf.” 15Toe het Natan huis toe gegaan.
Die Here het die kind wat die vrou van Urija vir Dawid in die wêreld gebring het, getref, en hy het ernstig siek geword. 16Dawid het by God gepleit vir die seuntjie. Dawid het streng gevas, hy het na binne gegaan en die nag deurgebring deur op die grond te lê. 17Die oudstes van sy huishouding het by hom gaan staan en probeer om hom van die grond af te laat opstaan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle iets geëet nie. 18Op die sewende dag het die kind gesterf. Die dienaars van Dawid was bang om vir hom te vertel dat die kind dood is, want hulle het gesê: “Kyk, terwyl die kind geleef het, het ons met hom gepraat, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe moet ons dan vir hom sê die kind is dood? Hy sal iets onverantwoordeliks doen.”
19Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: “Is die kind dood?” Hulle het gesê: “Ja, hy is.”
20Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet.
21Sy dienaars het vir hom gevra: “Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.” 22Hy het geantwoord: “Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. 23Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.”
24Dawid het sy vrou, Batseba, getroos. Hy het na haar toe gegaan, by haar geslaap, en sy het vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Hy het hom Salomo genoem. Die Here was lief vir hom 25en het deur Natan, die profeet, 'n boodskap gestuur. Hy het hom Jedidja genoem op aandrang van die Here.
Oorwinning oor die Ammoniete
26Intussen het Joab teen Rabba van die Ammoniete geveg en die koninklike stad omsingel. 27Joab stuur toe boodskappers na Dawid en laat hom weet: “Ek het teen Rabba geveg en ook beheer geneem oor die watervoorsiening. 28Bring nou die res van die manskappe byeen, plaas die stad onder beleg en neem dit in; anders neem ek self die stad in, en dan word my naam daaroor uitgeroep.”
29Dawid het toe al die manskappe byeengebring, na Rabba gegaan, teen die stad geveg en dit ingeneem. 30Hy het hulle koning se kroon van sy kop afgehaal. Die gewig daarvan was 'n kikkar goud, en daar was edelstene in. Dit is op Dawid se kop geplaas. Die buit van die stad wat hy weggevoer het, was besonder groot. 31Die mense wat daarin was, het hy uitgebring. Hy het hulle geplaas by klipsae, ysterpikke en ysterbyle. Daarna het hy hulle oorgeplaas na die steenvorms. So het hy met al die dorpe van die Ammoniete gemaak. Toe het Dawid en al die manskappe teruggekeer na Jerusalem.