Oorwintering op Melite
1Nadat ons veiligheid bereik het, het ons agtergekom dat die eiland Melite genoem word. 2Die plaaslike bevolking het buitengewone vriendelikheid aan ons betoon. Weens die dreigende reën en koue het hulle 'n vuur aangesteek, en ons almal verwelkom. 3Paulus het 'n hoop droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit. Van die hitte het 'n slang uitgekom en aan sy hand vasgebyt. 4Toe die plaaslike bevolking die gedierte aan sy hand sien hang, het hulle vir mekaar gesê: “Hierdie man is beslis 'n moordenaar. Hy is uit die see gered, maar Dike het nie toegelaat dat hy bly leef nie.” 5Paulus het egter die gedierte in die vuur afgeskud, en was ongedeerd. 6Hulle het verwag dat hy sal begin opswel, of skielik dood neerslaan. Maar nadat hulle lank gewag en gesien het dat niks buitengewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê dat hy 'n god is.
7In die omgewing van daardie plek was daar landerye wat behoort het aan die hoofman van die eiland, 'n man met die naam Publius. Hy het ons verwelkom en drie dae lank gasvry gehuisves. 8Dit het so gebeur dat Publius se vader siek aan koors en diarree in die bed gelê het. Paulus het na hom gegaan en vir hom gebid, sy hande op hom gelê en hom gesond gemaak. 9Ná hierdie voorval het die ander siekes op die eiland ook na hom gekom, en is gesond gemaak. 10Hulle het ons met eerbewyse oorlaai, en met ons vertrek vir ons alles gegee wat ons nodig gehad het.
Van Melite na Rome
11Ná drie maande het ons vertrek met 'n skip wat by die eiland oorwinter het. Dit was 'n skip uit Aleksandrië, met die Dioskuri as boegbeeld. 12En nadat ons in Sirakuse anker gegooi het, het ons drie dae daar oorgebly; 13en daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium aangekom. Een dag later het 'n suidewind opgesteek, en ons het Puteoli op die tweede dag bereik. 14Daar het ons broers aangetref wat ons uitgenooi het om sewe dae lank by hulle te bly. En uiteindelik het ons Rome bereik. 15Die broers daar wat die dinge oor ons gehoor het, het ons by die Forum van Appius en die Drie Herberge kom ontmoet. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.
16Toe ons in Rome aankom, is Paulus toegelaat om op sy eie te woon, met 'n soldaat wat hom bewaak het.
Paulus in Rome
17Ná drie dae het hy die Joodse leiers saamgeroep. Toe hulle byeen was, het hy vir hulle gesê: “Broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek uit Jerusalem as gevangene in die hande van die Romeine oorgelewer, 18wat my verhoor het en wou vrylaat, omdat daar in my geval geen gronde was vir die doodstraf nie. 19Omdat die Jode egter daarteen beswaar aangeteken het, is ek gedwing om my op die keiser te beroep – nie dat ek iets het om my volk van te beskuldig nie. 20Om hierdie rede het ek gevra om julle te sien en met julle te praat, aangesien dit juis oor die hoop van Israel is dat ek hierdie boeie dra.” 21Toe sê hulle vir hom: “Ons het uit Judea geen briewe oor jou ontvang nie, en ook het nie een van die broers hier aangekom wat iets slegs oor jou berig of gesê het nie. 22Ons sal dit egter waardeer om by jou te hoor wat jy dink, want dit is aan ons bekend dat daar oral teen hierdie splintergroep gepraat word.”
23Nadat hulle met hom 'n dag afgespreek het, het hulle in 'n nog groter getal by hom in sy verblyfplek opgedaag. Hy het die •koninkryk van God aan hulle uitgelê, en van vroegoggend tot die aand kragtig daaroor getuig, terwyl hy hulle uit die Wet van Moses en die Profete probeer oortuig het oor Jesus. 24Sommige is oortuig deur sy woorde, maar ander het ongelowig gebly. 25In onenigheid onder mekaar het hulle uiteengegaan, nadat Paulus nog 'n enkele laaste woord gespreek het: “Die Heilige Gees het tereg deur die profeet Jesaja aan julle voorvaders gesê:
26“ ‘Gaan na hierdie volk en sê:
“Met die ore sal julle hoor,
en glad nie verstaan nie,
en met die oë sal julle sien,
en glad nie insig kry nie.
27Want hierdie volk se hart
is afgestomp –
hulle kan beswaarlik
met hulle ore hoor;
hulle het hulle oë gesluit,
sodat hulle nie met hulle oë sien
en met hulle ore hoor
en met hulle harte verstaan
en terugdraai,
en Ek hulle genees nie.” ’
28“Julle moet dan weet dat hierdie verlossing van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.”
30Paulus het 'n volle twee jaar in sy gehuurde huis gebly en almal wat na hom gekom het, ontvang. 31Hy het die koninkryk van God verkondig en hulle met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus Christus onderrig.