Kwytskelding van skuld en hulp aan armes
1“Aan die einde van die sewende jaar moet jy 'n kwytskelding toestaan. 2En dit is hoe die saak van kwytskelding moet verloop: Elke skuldeiser moet dit wat hy aan sy naaste geleen het, kwytskeld. Hy mag nie druk uitoefen op sy naaste, sy volksgenoot nie, want 'n kwytskelding van die Here is afgekondig. 3Op 'n buitelander mag jy druk uitoefen, maar wat jou volksgenoot skuld, moet jy kwytskeld. 4Daar behoort egter nie behoeftiges by jou te wees nie, want die Here sal jou ryklik seën in die land wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee om in besit te neem; 5maar slegs as jy aandagtig luister na die stem van die Here jou God deur hierdie hele gebod wat ek vandag vir jou voorskryf, nougeset na te kom.
6“Wanneer die Here jou God jou seën soos Hy jou beloof het, sal jy aan baie nasies uitleen, maar self sal jy nie leen nie. Jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.
7“As daar tog in jou land, wat die Here jou God aan jou gaan gee, in een van jou dorpe 'n behoeftige persoon is, een van jou volksgenote, dan moet jy nie jou hart verhard nie en nie jou hand toehou vir jou behoeftige volksgenoot nie. 8Nee, jy moet jou hand vir hom wyd oopmaak en aan hom leen sonder voorbehoud, soveel as wat hy nodig het, wat ook al sy behoefte is.
9“Wees versigtig dat daar nie in jou hart die slinkse gedagte opkom om te dink, die sewende jaar, die jaar van kwytskelding kom nader nie, en jy dan jou oë sluit vir jou behoeftige volksgenoot en jy nie vir hom iets gee nie. Hy sal hom op die Here beroep teen jou, en dan staan jy skuldig. 10Gee milddadig aan hom; en wanneer jy vir hom gee, moet dit nie met 'n teensinnige hart wees nie. Om hierdie rede sal die Here jou God jou immers seën in al jou werk, in alles waaraan jy jou hand waag. 11Ja, behoeftiges sal nie uit die land verdwyn nie. Daarom beveel ek jou: Maak jou hand wyd oop vir jou volksgenoot, vir die magtelose en die behoeftige in jou land.”
Vrystelling van Hebreeuse skuldslawe
12“Wanneer jou volksgenoot, 'n Hebreeuse man of vrou, hom aan jou verkoop, moet hy jou ses jaar lank dien en in die sewende jaar moet jy hom as 'n vry man van jou af laat weggaan. 13Wanneer jy hom dan as 'n vry man van jou af wegstuur, moet jy hom nie met leë hande laat gaan nie. 14Jy moet vir hom ruim voorsien uit jou kleinvee, van jou dorsvloer en van jou wynpers. Van alles waarmee die Here jou God jou geseën het, moet jy vir hom gee. 15Onthou dat jy 'n slaaf was in Egipteland en dat die Here jou God jou vrygekoop het; daarom gee ek jou vandag hierdie opdrag.
16“As dit egter sou gebeur dat die skuldslaaf, omdat hy jou en jou huisgesin liefhet en omdat dit vir hom goed was by jou, vir jou sê, ‘Ek wil nie van jou af weggaan nie,’ 17moet jy 'n els vat en dit deur sy oor en in die deur steek. Dan is hy vir altyd jou slaaf. Doen dieselfde met jou slavin.
18“Jy moet nie daarteen opsien om hom as 'n vry man van jou af te laat weggaan nie, want in die ses jaar wat hy jou gedien het, was hy vir jou twee maal soveel werd as 'n huurarbeider. Die Here jou God sal jou seën in alles wat jy doen.”
Eerstelinge van diere
19“Elke manlike eersteling wat onder jou beeste en kleinvee gebore word, moet jy aan die Here jou God wy. Jy mag nie met die eerstelinge van jou beeste werk verrig of die eerstelinge van jou kleinvee skeer nie. 20In die teenwoordigheid van die Here jou God moet jy hulle elke jaar gaan eet op die plek wat die Here sal kies, jy en jou huisgesin. 21Maar as 'n dier 'n gebrek het, mank of blind is of enige ander ernstige gebrek het, mag jy dit nie aan die Here jou God offer nie. 22In jou dorpe mag jy dit eet; •onrein en rein persone mag dit eet, soos in die geval van 'n gasel en 'n rooitakbok. 23Slegs die bloed mag jy nie eet nie. Op die grond moet jy dit soos water laat uitloop.”