1Hierop het Moses geantwoord en gesê: “Maar as die Israeliete my nie glo nie, en hulle nie na my luister nie? As hulle dalk sê, ‘Die Here het nie aan jou verskyn nie’?” 2Die Here sê toe vir hom: “Wat het jy daar in jou hand?” Hy antwoord: “'n Staf.” 3Die Here sê: “Gooi dit op die grond!” En toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang! Moses het daarvoor teruggedeins. 4Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert!” Moses het sy hand uitgesteek en dit gegryp. Toe word dit weer 'n staf in sy hand. 5“Dit is sodat hulle kan glo dat die Here, die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.”
6Die Here het weer vir hom gesê: “Steek jou hand in die vou van jou kleed.” Hy druk toe sy hand in die vou, en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu! 7Daarop sê die Here: “Steek jou hand weer in die vou van jou kleed.” Hy het weer sy hand in die vou gesteek, en toe hy dit uit die vou uittrek, was dit weer soos die res van sy liggaam!
8“As hulle jou nie glo nie, en nie aandag gee aan die eerste teken nie, sal hulle die laaste teken glo. 9As dit dalk gebeur dat hulle selfs hierdie twee tekens nie glo nie, en nie na jou stem luister nie, skep dan van die Nyl se water en gooi dit uit op die droë grond. Die water wat jy uit die Nyl geskep het, sal bloed word op die droë grond.”
10Maar Moses het vir die Here gesê: “Asseblief, my Heer! Ek is nie 'n man van woorde nie, nie in die verlede nie, en ook nie vandat U met u dienskneg gepraat het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.” 11Daarop sê die Here vir hom: “Wie het 'n mond vir die mens beskik, en wie maak stom of doof, siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? 12Gaan dan nou! Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.” 13Maar hy sê: “Asseblief, my Heer! Stuur asseblief iemand anders.” 14Die toorn van die Here het teen Moses ontbrand en Hy het gesê: “Is Aäron, die Leviet, nie jou broer nie? Ek weet dat hy welsprekend is. Wat meer is, kyk, hy is op pad om jou te ontmoet; en wanneer hy jou sien, sal sy hart verheug wees. 15Jy moet met hom praat en die woorde in sy mond lê. Ek sal met jou mond en met sy mond wees. Ek sal julle leer wat julle moet doen. 16Hy moet namens jou met die volk praat. Dit is hoe dit gaan gebeur – hy sal vir jou 'n mond wees en jy sal vir hom 'n god wees. 17Hierdie staf moet jy in jou hand neem. Dit is waarmee jy die tekens moet doen.”
Moses se terugkeer na Egipte
18Moses het toe gegaan, en teruggekeer na Jetro, sy skoonvader, en vir hom gesê: “Ek wil graag gaan en na my volksgenote wat in Egipte is, terugkeer, sodat ek kan sien of hulle nog leef.” Jetro sê toe vir Moses: “Gaan in vrede!”
19Die Here het vir Moses in Midian gesê: “Gaan terug na Egipte, want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.” 20Moses neem toe sy vrou en sy seuns, sit hulle op 'n donkie en gaan terug na Egipteland. Moses het die staf van God in sy hand gehad. 21Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan na Egipte, sien toe dat jy al die tekens waartoe Ek jou in staat stel, voor die farao doen. Maar Ek sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie. 22Dan moet jy vir die farao sê, ‘So sê die Here: “My eersgebore seun is Israel. 23Ek het vir jou gesê, ‘Laat my seun gaan, sodat hy My kan dien.’ Maar jy het geweier om hom te laat gaan. Kyk, Ek gaan jou eersgebore seun om die lewe bring.” ’ ”
24Op pad, by 'n oornagplek, het die Here op Moses afgekom en wou hom doodmaak. 25Sippora neem toe 'n vuurklip en sny haar seun se voorhuid af. Sy het Moses se voete aangeraak en gesê: “Jy is vir my 'n bloedbruidegom.” 26Die Here het hom toe met rus gelaat. Dit is toe dat sy “bloedbruidegom” gesê het, met verwysing na die besnydenis.
27Die Here het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” Hy het gegaan en op hom afgekom by die berg van God, en hom gesoen. 28Moses het Aäron ingelig oor al die woorde van die Here, wat hom gestuur het, en oor al die tekens wat Hy hom beveel het. 29Moses en Aäron het toe gegaan en al die oudstes van die Israeliete byeengebring. 30Aäron het al die woorde wat die Here vir Moses gesê het, herhaal. Moses het al die tekens voor die oë van die volk gedoen, 31en die volk het geglo. Toe hulle hoor dat die Here aandag gee aan die Israeliete en dat Hy hulle ellende raakgesien het, het hulle gekniel en in aanbidding gebuig.