Oordeel oor priesters en afgodsdiens
1Luister na die woord van die Here,
Israeliete,
want die Here het 'n regsaak
teen die inwoners van die land:
“Omdat daar geen betroubaarheid,
geen troue liefde,
en geen kennis van God
in die land is nie,
2het meineed en bedrog,
moord, diefstal
en egbreuk toegeneem,
en bloedbad volg op bloedbad.
3Daarom verdor die land,
en kwyn almal weg wat daarin woon
saam met die diere van die veld
en die voëls van die hemel.
Selfs die visse in die waters
word bymekaargemaak.
4“Tog moet 'n mens nie aankla
en iemand teregwys nie,
want dit is jou mense met wie Ek
eintlik die stryd voer, priester.
5Jy gaan vandag struikel;
ook profete sal vannag
saam met jou struikel,
en Ek gaan jou moeder laat omkom.
6“My volk kom om
weens 'n gebrek aan kennis.
Omdat jy die kennis verwerp het,
sal Ek jou verwerp,
sodat jy nie meer vir My
priesterdiens doen nie;
omdat jy die wet van jou God
vergeet het,
sal Ek ook jou seuns vergeet.
7“Hoe meer hulle geword het,
hoe meer het hulle teen My gesondig.
Hulle aansien sal Ek in skande verander.
8Op die sonde van my volk teer hulle,
na hulle sondeskuld hunker hulle.
9Dit sal met die priesters gaan
soos met die volk:
Ek gaan van hulle rekenskap eis
oor hulle optrede,
hulle vergeld vir hulle dade.
10Hulle eet,
maar sal nie versadig word nie;
hulle hoereer,
maar sal nie meer word nie.
Omdat hulle die Here verlaat het
om hulle toe te wy aan 11hoerery;
en omdat wyn en •nuwe wyn
hulle verstand benewel,
12doen my volk navraag by 'n stuk hout;
sy wandelstok moet vir hom inligting gee.
Omdat 'n gees van hoerery
hulle laat dwaal,
hoereer hulle weg van hulle God af.
13Op die bergtoppe slag hulle
en op die heuwels offer hulle,
onder eikebome, storaksbome
en terebintbome,
omdat daar goeie skaduwee is.
Daarom hoereer julle dogters,
en pleeg julle skoondogters egbreuk.
14Ek sal nie julle dogters
tot verantwoording roep
omdat hulle hoereer,
of julle skoondogters
omdat hulle egbreuk pleeg nie,
want die priesters
gaan eenkant toe met prostitute,
en saam met tempelprostitute
slag hulle offers.
'n Volk wat nie begrip toon nie,
gaan ten gronde.
15“As jy hoereer, Israel,
moet Juda tog nie skuldig word nie.
Julle moenie na Gilgal gaan nie,
en moenie optrek na Bet-Awen nie.
Moenie sweer,
‘so waar as die Here leef’ nie.”
16Ja, Israel is so weerbarstig
soos 'n weerbarstige koei.
Sal die Here hulle nou laat wei
soos 'n lam in die oopte?
17Efraim is verbind aan afgode –
laat hom met rus!
18Wanneer hulle drinkery ophou,
hoereer hulle op groot skaal.
Hulle het skande,
haar skaamtelose gedrag,
hartstogtelik lief.
19Die wind het haar
in sy vleuels opgerol,
hulle gaan in die skande kom
oor hulle offers.