1So sê die Here:
“Die hemel is my troon,
en die aarde die voetbank
van my voete.
Waar is die huis
wat julle vir My sou bou,
en waar is my rusplek?
2Al hierdie dinge –
my hand het dit gemaak;
so het alles ontstaan,”
is die uitspraak van die Here.
“Op so iemand sal Ek ag slaan:
op 'n magtelose met 'n verslae gees,
wat sidder vir my woord.
3“Iemand slag 'n bul,
en vel 'n mens neer;
bring 'n lam as maaltydoffer,
en breek die nek van 'n hond;
bring 'n •graanoffer,
en ook die bloed van varke;
bring wierook
as simboliese offer,
en prys 'n valse god aan.
Aangesien hierdie mense
hulle eie paaie gekies het,
en hulle sielsgelukkig is
met hulle verfoeilike afgode,
4sal ook Ek kies om hulle streng
te behandel;
en dit wat hulle vrees
sal Ek oor hulle bring.
Want toe Ek geroep het,
het niemand geantwoord nie;
toe Ek gepraat het,
het hulle nie geluister nie.
Hulle het gedoen wat verkeerd is
in my oë,
en wat onaanvaarbaar is vir My,
het hulle gekies.”
5Hoor die woord van die Here,
julle wat sidder vir sy woord:
“Julle volksgenote wat julle haat,
wat julle verstoot ter wille van
my Naam, het gesê,
‘Laat die Here verheerlik word,
sodat ons julle vreugde
kan aanskou!’
Maar self sal hulle beskaamd staan.”
6Die geluid van 'n rumoer uit die stad!
'n Geluid uit die •tempel!
Die stem van die Here
wat met sy vyande afreken
volgens wat hulle verdien!
7Nog voordat sy ineenkrimp,
het sy reeds geboorte gegee;
nog voordat die geboortepyne
haar oorval,
het sy 'n seun in die wêreld
gebring.
8Wie het al van so iets gehoor?
Wie het al sulke dinge gesien?
Word 'n land op een dag gebore;
of word 'n volk eensklaps
in die wêreld gebring?
Ja, net toe sy ineenkrimp,
het Sion ook geboorte gegee
aan haar kinders.
9“Sal Ek wat die water laat breek,
nie geboorte laat gee nie?”
vra die Here.
“Of sal Ek, wat geboorte laat gee,
die geboorte terughou?”
vra jou God.
10“Wees verheug saam met Jerusalem,
en juig oor haar,
almal wat haar liefhet!
Wees besonder bly saam met haar,
almal wat oor haar getreur het,
11sodat julle kan suig
aan haar vertroostende borste,
en versadig kan raak,
sodat julle kan drink
en julle kan verkwik
aan haar vol, ryk borste.”
12Want so sê die Here:
“Kyk, Ek gaan vrede na haar toe
afkeer soos 'n rivier,
die luister van nasies
soos 'n spruit in vloed;
en julle sal drink.
Op die heup sal julle gedra word,
en op knieë gewieg word.
13Soos iemand se moeder hom troos,
so sal Ek self julle troos;
in Jerusalem sal julle getroos word.
14As julle dit sien, sal julle harte
bly wees;
julle gebeente sal soos groen plante
gedy.”
Die mag van die Here sal bekend
wees by sy diensknegte,
en Hy sal sy vyande vervloek.
15Want kyk, die Here
sal met vuur kom,
en soos 'n stormwind
is sy strydwaens,
om met woede sy toorn te laat geld,
en sy dreigement
kom met vuurvlamme.
16Ja, met vuur en sy swaard
gaan die Here die saak bereg
met alle mense.
Talryk sal dié wees wat deur
die Here verslaan word.
17“Dié wat hulleself heilig en hulle reinig om na die tuine te gaan, agter een aan wat in die middel is, terwyl hulle varkvleis, weersinwekkende dinge en muise eet, sal saam tot 'n einde kom,” is die uitspraak van die Here. 18“En Ek? Wat hulle dade en gedagtes betref, die vuur is aan die kom om al die nasies en tale bymekaar te dryf. Hulle sal kom en my heerlikheid sien. 19Ek sal onder hulle 'n teken oprig, en sommige van dié wat oorleef, stuur na die nasies, na Tarsis, Pul en Lud – hulle wat die boog span – na Tubal en Jawan, die verre eilande wat nog nie van my roem gehoor en my heerlikheid nog nie gesien het nie. Hulle sal my heerlikheid onder die nasies bekend maak. 20Hulle sal al julle volksgenote uit al die nasies, as die Here se geskenk, op perde en strydwaens, op waens, muile en kamele, na my heilige berg, Jerusalem, bring,” sê die Here, “net soos die Israeliete die graanoffer in rein houers na die huis van die Here bring. 21Ek sal sommige van hulle selfs as priesters en Leviete neem,” sê die Here. 22“Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, voor My sal bly voortbestaan,” is die uitspraak van die Here, “so sal julle nageslag en julle naam bly voortbestaan. 23En dan, van nuwemaan tot nuwemaan, van Sabbat tot Sabbat, sal alle mense kom om voor My in aanbidding te buig,” sê die Here. 24“Hulle sal dan uit die stad gaan en die lyke sien van die mense wat teen My oortree het, want die wurms op hulle sal nie sterf nie, en die vuur om hulle sal nie uitbrand nie. Hulle sal afskuwelik wees vir alle mense.”